GEORGE NUUS - Danksy die oplettendheid van 'n sakeman van Hoopstraat, is 'n bulterriër, Lady, weer veilig terug by haar eienaars. Lady behoort aan Martie en Dirk Uys. Hulle was aanvanklik nie eers daarvan bewus dat hul geliefde hond weg is nie.
Die sakeman, Anton Smith van Anton's Auto Centre het verlede Maandag 'n klant gehelp. Die klant het 'n rukkie na 16:00 by sy werkswinkel opgedaag oor 'n probleem met sy motor. Hulle het om die blok gaan ry om vas te stel wat met sy motor verkeerd is.
Toe hulle weer in Hoopstraat indraai, het Smith twee mans met 'n hond gesien. Hy het hulle nadergeroep en gevra om na sy werkswinkel daar naby te kom. Die twee het verduidelik dat hulle die hond in die straat gekry het nadat sy vermoedelik êrens by 'n erf uitgekom het.
Smith het die nommer op die hond se halsband in sy telefoon getik en gesien dat dit Dirk Uys se nommer is, hy ken kom.
Uys was baie verbaas om te hoor dat sy hond by Smith se werkswinkel is.
Sy eggenoot Martie, het aan die George Herald vertel dat sy kort voor 16:30 'n telefoonoproep van haar man, Dirk ontvang het. Hy was in daardie stadium in Makhado, (voorheen bekend as Louis Trichardt) in die Limpopo-provinsie vir sake.
Hy het aan haar vertel die hond is by Smith in Hoopstraat. Sy het aan hom vertel Lady is nie weg nie, want sy het die hond nog kort gelede in hul erf, 'n hele ent van Hoopstraat gesien.
Sy het buite gaan kyk en gesien die hond is weg. Iemand het waarskynlik die hond laat uitkom.
Sy het na Smith gery en Lady gaan haal. "Ek was aanvanklik geskok, maar baie dankbaar."
Hulle het die hond al vier jaar. "Ons is baie lief vir haar, sy is soos familie." Volgens Martie is Lady vol lewe en 'n spelerige hond.
Smith is self baie lief vir diere en is bly hy kon help.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'