GEORGE NUUS - Leerders van George Sekondêr, wat in verliggende gebiede woon, moes van die begin van die jaar af vir lief neem om 'n paar ure laat by die skool op te daag weens permitte vir skoolbusvervoer wat nie in plek is nie.
Leerders van Lancewood, Touwsranten en Bergplaas is daardeur geaffekteer. Hulle het soggens tussen 09:00 en 10:00 eers by die skool opgedaag en het so belangrike periodes gemis. Hulle het ook eers tussen 17:00 en 18:00 by die huis gekom.
Gerald Seti, van Lancewood, 'n ouer met drie kinders in George Sekondêr, het gekla hy het die kwessie onder die aandag gebring van amptenare van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) se distrikskantoor en minister David Maynier se kantoor, maar het geen bevredigende terugvoer ontvang nie en die situasie het voortgeduur.
George Herald het verlede week 'n navraag aan die WKOD gestuur, en teen Maandag was 'n tydelike oplossing in plek en kon die kinders op die normale tyd by die skool aanmeld.
Volgens Seti is leerders van Parkdene Sekondêr soggens eerste opgetel en skool toe geneem, voordat die bus al die pad teruggekeer het na die Touwsranten-omgewing om George Sekondêr se leerders te gaan haal. "In die middag is Parkdene Sekondêr se leerders weer eerste huis toe geneem, en moes George se kinders maar weer wag."
'n Woordvoerder van die WKOD, Kerry Mauchline, het by navraag gesê die probleem het ontstaan nadat die verkeersdepartement gekontrakteerde bestuurders van die leerdervervoerskema verhoed het om te ry omdat hulle meer as die toegelate aantal kinders vervoer het ingevolge hul permitte.
"Met die hoër as verwagte inskrywings by die skole, moes die skole aansoek gedoen het vir vervoer vir addisionele leerders. Die verkeersdepartement het toegestem om die vervoer van die bykomende leerders tydelik toe te laat terwyl die aansoekproses hanteer word."
Mauchline het Maandag 20 Februarie gesê genoeg busse sal beskikbaar wees vir die week sodat leerders op die normale tye by die skole kan arriveer en vertrek. "Distriksamptenare sal by die vervoeroptelpunte wees om die reëling te monitor."
Die leerders wat geraak is, het slegs een les of deel van 'n les verloor, en hulle is op datum gebring. "Enige ouer wat bekommerd is dat hul kind agtergeraak het, word versoek om met die skool kontak te maak vir hulp."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'