Update
GEORGE NUUS - 'n Pienkvoet is die rede waarom George en Maggel Gerber deesdae so breed glimlag. Die Gerbers het op 23 April die ouers van hul eersteling, Mikayla geword. Die egpaar se mooi liefdesverhaal het inwoners oor die jare aangegryp.
Die twee het oorspronklik by die George-nagskuiling ontmoet. In Junie 2017 het hulle saam motors begin oppas en in Februarie 2018 het hulle verloof geraak. Hulle is op 2 Februarie 2019 getroud.
LEES HIER: Liefde blom in 'n parkeerterrein
Tydens George Herald se besoek laat Maandagmiddag was die kleine Mikayla vas aan die slaap. George kon nie ophou kyk vir sy dogtertjie nie. Dit is sy eerste kind. Maggel het reeds 'n seun, Xander (17) uit 'n vorige huwelik.
Maggel het vertel dat Mikayla met 'n noodkeisersnee in die wêreld gebring is. Sy was veronderstel om eers op 18 Mei gebore te word. "Dis 'n groot aanpassing. Ek het al 'n kind grootgemaak. Dis daai kere in die nag opstaan, maar dit gaan darem nou al beter. Sy slaap nou vir vier ure aanmekaar."
Maggel het gesê sy lyk na beide van hulle en is 'n baie soet babatjie. "Sy huil net as sy honger is en as sy gebad moet word."
George het gesê dis 'n aangename gevoel om pa te wees. "Dit bring blydskap en vreugde. Dis die stempel op ons huwelik." Hy werk bedags en soms is dit maar moeilik in die nag.
Al die familie en vriende is baie bly oor die nuwe toevoeging en sy is oorlaai met geskenke. Dis egter hartseer dat haar oumas en oupas reeds oorlede is en nie kan deel in die vreugde nie.
Die egpaar dink reeds oor die toekoms van hul dogtertjie. "As sy goed is in sport, sal ons graag wil hê sy moet 'n sportloopbaan volg. Sy moet minstens haar skoolloopbaan voltooi.
"Sy moet egter self besluit wat sy eendag wil doen," het George vertel. As ouers wil hulle graag verseker dat sy 'n goeie opvoeding kry. "Ek sal haar bederf tot in die afgrond," het George gesê.
Tong in die kies het George bygevoeg: "Ek weet sy gaan eendag mej. Suid-Afrika word."
Volgens George het die kleinding sy lewe verander. "Dit het my 'n ander perspektief en uitkyk op my lewe gegee. Dis 'n bestiering van die Here dat alles so uitgewerk het."
George en Maggel Gerber met hul eersteling, Mikayla. Foto: Eugene Gunning
Vorige artikels:
- Kyk wie het ma en pa geword
- Die getroude lewe is goed vir Gerber-egpaar
- Die begin van 'n huwelikspad
- Liefde blom in 'n parkeerterrein
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'