Update
GEORGE NUUS - As 'n mens na George en Maggel Gerber kyk, is dit beslis die moeite werd om te trou. Hulle is op 2 Februarie verlede jaar getroud en 'n jaar later, lyk hul nog net so verlief.
Hul mooi liefdesverhaal het mense verlede jaar aangegryp.
Die twee het oorspronklik by die George-nagskuiling ontmoet. In Junie 2017 het hulle saam motors begin oppas en in Februarie 2018 het hulle verloof geraak. Sedert hul troue het baie dinge gebeur. George het weer 'n permanente werk.
Maggel pas steeds voertuie by 'n winkelsentrum op en na werk gaan haal George haar gewoonlik met hul bromponie.
Maggel se seun, Xander (16), woon sedert die tweede helfte van verlede jaar by hulle en hy is nou besig met 'n ambag om 'n motorwerktuigkundige te word.
Maggel en George Gerber by die bromponie waarmee hulle rondrits.
George en Maggel is dit eens dat die getroude lewe aanvanklik 'n groot aanpassing was, maar hulle is daardeur en dit gaan nou goed.
"Die band is nou baie sterker," het George vertel. "In die eerste jaar het ons mekaar se hare getel en al die gryses uitgepluk," het George spottenderwys gesê.
Vir George was die getroude lewe aanvanklik 'n groot aanpassing. "Ek was vir 10 jaar op my eie en gewoond aan my eie ding doen."
"As ek iets alleen doen, mis ek haar. Ons is steeds verlief. Nou en dan koop ons iets vir die huis. Ons probeer vorentoe gaan en dinge verbeter."
Volgens hom is hulle nie net man en vrou nie. "Ons is ook vriende."
Soos met alle egpare is daar soms 'n bietjie tonetrappery, maar hulle los dit gou op.
George is baie dankbaar dat hy weer 'n permanente werk het. "Ek het baie daaroor gebid. Geloof in die Here speel 'n baie belangrike rol in ons lewens."
George en Maggel Gerber in George by die huis waar hulle woon.
Foto's: Eugene Gunning
Maggel sê die grootste aanpassing vir haar was die besef dat sy nie alles alleen hoef te doen nie. "In my vorige lewe was ek die broodwinner. Nou het ek iemand op wie ek kan staatmaak. Soms voel dit nog vreemd om vir George te vra om vir my iets te doen. Ek was gewoond om alles self te doen."
Die egpaar maak reeds planne vir die toekoms. Hulle sal nie omgee om 'n eie motor te besit nie. Hulle is gelukkig waar hulle nou woon, maar as hulle 'n bietjie groter plek kan kry sal hulle beslis belangstel.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'