Gallery Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Familie en vriende was Saterdag getuie toe die huwelikspad van twee motorwagte, George en Maggel Gerber begin het. Die liefde tussen hulle het 'n paar jaar gelede begin blom in 'n parkeerterrein by 'n winkelsentrum waar hulle voertuie opgepas het.
Die George Herald het verlede week oor die mooi liefdesverhaal berig en dit het mense aangegryp.
Hulle het by die George-nagskuiling ontmoet - 'n plek waar mense kan tuisgaan wat nie 'n ander heenkome het nie. In Junie 2017 het hulle saam motors begin oppas en in Februarie 2018 het hulle verloof geraak.
Die troue het Saterdag plaasgevind by die lapa van Hoërskool Heatherlands in Langenhovenweg. Die skool was voorheen bekend as Die Bult-skool.
Voordat hulle mekaar ontmoet het, het elkeen se lewenspaaie eers 'n paar draaie gemaak op pad na hul nuwe bestemming. Maggel was voorheen getroud.
Sowat 50 gaste het Saterdag in hul vreugde gedeel. Onder die gaste was Maggel se seun uit haar eerste huwelik, Zander. Haar ma, Stephanie Atkins en George se oudste broer, Nico Gerber en sy twee susters, Lorraine de Bruin en Esme Gouws was ook teenwoordig.
Maggel se hare is reeds die oggend by Love.it haarsalon mooi gemaak.
Volgens Jay Jay Venter van die salon, het hy die berig gesien en besluit om haar gratis te help.
Later het die gaste van 13:30 by die lapa begin opdaag. Net voor 14:00 het George opgedaag en hy het gaste vriendelik gegroet. Soos dit tradisie is, was die bruid laat en George het gespot dat hy vir Maggel gesê het sy kan maar 15 minute laat wees.
George en Maggel steek 'n kers aan tydens hul huweliksbevestiging.
Omstreeks 14:15 het Maggel in 'n mooi wit trourok opgedaag. George se oudste broer, Nico het haar na die 'kansel' begelei. George kon sy oë nie van haar af hou nie. 'n Reënbui het uitgesak, maar dit kon nie die opgewondenheid van aanwesiges demp nie.
Pastoor Pieter Niemand van Fortress Ministries wou weet of daar enigiemand is wat beswaar het teen die voorgenome huwelik.
George en Maggel het na die gaste gekyk en toe dit duidelik was dat niemand beswaar het nie, het pastoor Niemand begin met die huweliksbevestiging. Hy het George en Maggel gevra om hul geluk op die Woord van die Here te bou.
Niemand het die gaste ook gevra om George en Maggel te steun waar hulle ook al gaan. Hy het onder groot gelag bygevoeg: "Dis die eerste 60 jaar wat moeilik is."
Nadat die seremonie verby was, het dit opgehou reën en die son het weer geskyn.
Kyk 'n video hieronder:
Die nuwe egpaar het opgewonde aan die George Herald vertel dat hulle baie bly is om getroud te wees.
George het gesê dis wonderlik om die nuwe mev. Gerber langs hom te hê. "Sy lyk pragtig. Ek het nooit geweet sy is so mooi nie."
Die nuwe mnr. en mev. Gerber soen mekaar. Foto's: Eugene Gunning
Maggel het laggend vertel: "Ek is nog bietjie senuweeagtig, maar ek sal nou-nou ontspan. Ek is bly ek is mev. Gerber. Ek kon nie wag daarvoor nie. Nou is ek."
Later is heerlik gekuier en gedans. Nico Gerber het gesê die familie is bly dat iemand George se pad gekruis het. "Hy het iemand nodig om hom by te staan."
Lees 'n vorige artikel: Liefde blom in 'n parkeerterrein
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'