Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Hulle het by die George-nagskuiling ontmoet - 'n plek waar mense kan tuisgaan wat nie 'n ander heenkome het nie. Daarna het die liefde tussen hulle begin blom in 'n parkeerterrein by 'n winkelsentrum waar hulle voertuie oppas. En nou is hulle op pad kansel toe.
Dit is die liefdespad van George Gerber (44) en Maggel de Lange (37) wat op 2 Februarie trou.
Wanneer hulle gesels, spat die vonke. Hulle is duidelik baie erg oor mekaar en die voorbereidings vir die groot dag is op koers. Dit vind plaas om 14:00 by die ou Die Bult-skool in die saal in Langenhovenweg. Sowat 70 gaste is genooi en dit gaan 'n gemaklike geleentheid wees wat deur familie en naby vriende bygewoon sal word.
Hulle wys trots die troukaartjie en van die versierings wat veral Maggel self gemaak het.
Voordat hulle mekaar ontmoet het, het hul elkeen se lewenspaaie eers 'n paar draaie gemaak op pad na hul nuwe bestemming.
George vertel dat hy in sy lewe meer dronk as nugter was. Maar dit het gelukkig verander. Hy is gebore in George en het hier grootgeword. In 'n stadium het hy 'n vakmanskap in bootbou in Knysna gedoen. Verskeie dinge het gebeur. Hy het 'n goeie werk gehad en op 'n stadium het hy onder meer 'n rugbesering opgedoen.
In 2009 het hy saam met 'n vriendin na Rouxville in die Vrystaat gegaan, maar dit het nie uitgewerk nie.
In 2010 het teruggekeer. Hy het gesukkel om werk te kry en los werkies gedoen. Hy het verskriklik begin drink. Hy het nie 'n behoorlike woonplek gehad nie en vir ses jaar so geleef.
George Gerber en Maggel de Lange by hul woonplek waar hulle baie van die voorbereidings doen vir hul troue op 2 Februarie . Foto: Eugene Gunning
In 2016 het hy een oggend besef hy kan nie meer so aangaan nie. Tot toe was hy louwarm godsdienstig. "Ek het vir die Here gesê ek kan nie meer nie." Sy drinkery het nog vir 'n rukkie aangehou. Hy is na 'n hospitaal waar hy behandel is en 'n noodoperasie ondergaan het. Sy pad van herstel het begin.
In September het 2016 het hy 'n belofte teenoor die Here gemaak dat hy sou ophou drink.
Hy het 'n tuiste by die George-nagskuiling gevind. Daar het hy vir Maggel ontmoet. Eers was hulle net vriende. Hy wou nie inmeng nie, want hy het gesien Maggel en haar vorige man het nog kontak.
Later, in Junie 2017, het hulle saam motors begin oppas en dit is waar die liefde begin blom het.
Kyk 'n video hieronder:
Maggel vertel dat sy van Germiston kom. Sy het hierheen gekom omdat haar seun naby sy pa wou wees wat hier gewoon het. By die nagskuiling het sy vir George ontmoet. "Van my kant af was dit liefde met die eerste oogopslag." In Februarie 2018 het hulle verloof geraak.
Hulle is positief oor die toekoms. "Ons het baie in gemeen," sê George. "Ons hou albei van visvang, tuinwerk, braai en die buitelewe. Ons is ook baie lief vir diere."
Maggel de Lange en George Gerber wys trots hul troukaartjie. Foto: Eugene Gunning
Maggel sê hulle vul mekaar goed aan en sy hou van George se manlikheid. Hulle is opgewonde oor die troue en glo aan die liefde. George se enigste bekommernis is dat hy nie eintlik kan dans nie. Maggel het onderneem om hom te leer.
Natuurlik is daar soos by enige paartjies soms verskille, maar hulle werk daaraan om dit te oorbrug. Hulle gaan in George aanbly en steeds voertuie oppas.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'