GEORGE NUUS - Hoërskool George is weer hierdie naweek in die kollig met hul kunstefees wat dans, drama, visuele kunste, ontwerp en natuurlik musiek en sang insluit. Die fees begin vandag, 17 Oktober, en sluit Saterdag af met die hoogtepunt, Jazz on the Lawn.
Die skoolhoof, Morton van Rooyen, sê op 'n stadium was die voortbestaan van die kunstedepartement by die skool in die gedrang.
Hy en die departementshoof, Norman Christians, het gewonder of hulle die departement moet sluit. Maar vandag weet hy dat dit die beste besluit vir die leerders was om dit te behou, want hul skool loop oor van al die kunstalent.
Christians, die koördineerder van die fees, sê vanjaar gebeur alles behalwe Saterdag se Jazz on the Lawn in die skoolsaal.
Van Rooyen sê dit kos baie geld om die kunstedepartement by die skool aan die gang te hou, en die fees nog meer, omdat die skool nie meer finansiële ondersteuning ontvang soos voorheen nie. Lopende koste sluit in die diens van die musiekinstrumente en die aankoop van kuns- en dramatoerusting. Daar moet ook onderhoud aan die dansklas se vloer gedoen word.
Die visuele kunste-leerders. Van links is Clayton Koert, Dwayne Coole, Fabrice Plaatjies, Lisa Mjijwa en Austin Baartman.
'n Toekoms in die kunste
Van Rooyen sê elke jaar is daar leerders wat A-kandidate in die kunste is, maar akademies nie so goed vaar nie. "In baie gevalle druip daardie leerder maar kry 'n A in dans of musiek of teken. So 'n leerder kan steeds vir hom of haar 'n toekoms losdans of sing of teken," sê hy.
Sonder hierdie departement by die skool sou daar dalk geen ander heenkome vir hierdie leerders wees nie. Volgens Van Rooyen was van hul leerders al te sien in advertensies en in Suidooster, en hul dansleerders was betrokke by groot dansproduksies.
Elke afdeling gaan iets spesiaals lewer. Daar gaan kunswerke en beelde uitgestal word en optredes wees deur die koor, die skool se musiekleerders, die dramaleerders en die dansleerders, wat 'n groot vertoning gaan lewer.
"Elke jaar gee die dansleerders 'n groot afskeidsvertoning vir hul ouers in die skoolsaal," sê Christians.
Die dans en drama-afdeling is, van links: Bartholomew Pietersen (danser), Eureka Johannes (dramaonderwyser), William Constable-Alaart (dansonderwyser) en Raldino Lottering (danser).
Besonderhede
Die fees skop af met 'n ope dag vandag, 17 Oktober, waar toekomstige leerders aan die skool verwelkom word. Môre is die gala-aand in die skoolsaal en Saterdag is die groot dag gevul met musiek, wanneer Jazz on the Lawn op 'n grasperk op die skoolterrein plaasvind.
Ander skole asook die hele gemeenskap word aangemoedig om Kunste in die Kollig te kom ondersteun. Mense kan Saterdag hul piekniekstoele en -komberse saambring. Daar sal ook kos te koop wees.
Kaartjies is R100 (slegs die gala-aand) en R150 (die gala-aand en Jazz on the Lawn) en is beskikbaar by die skool. Bel die skool vir meer inligting by 044 871 1194.
Onderwyser Kevin van Niekerk (middel voor) saam met die ontwerp-leerders van 2019.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'