GEORGE NUUS - Die leerders van Hoërskool Outeniqua en Hoërskool Hugenote is eerskomende naweek reg vir 'n interskole wat skrik vir niks.
Dit is die eerste interskole van sy soort vir die Kwaggas en die geesdrif loop hoog onder al wat 'n sport-, en veral kultuurleerder is. Die naweek skop af in die Hoërskool Outeniqua se sysaal met 'n middag van debat waar die saampraters van Hugenote en Outeniqua mekaar dalk 'n ding of twee kan leer. Daarna kan liefhebbers van koorsang na die NG Kerk Denneoord verskuif, om 'n aand van koorsang te geniet.
Die skoolkore se program behels gewilde, bekende, klassieke en ook nuwe koorverwerkings. Dit beloof om 'n aand van gehalte genot te wees. Kaartjies beloop R30 per persoon en sal slegs by die deure beskikbaar was. Saterdagoggend is al die leerders weer vroeg uit die vere om mekaar op die sportvelde te ontmoet vir lekker lag, lekker woel en lekker saam sweet.
Liefhebbers van netbal, rugby en hokkie kan gerus kom vir die wedstryde en bly vir die goeie geselskap en lekker eetgoed wat te koop sal wees.
Kwaggas is baie trots om hierdie naweek saam met Hugenote te kan deurbring. Nie net is dit die eerste keer wat ons Hugenote in die hartjie van die Suid-Kaap verwelkom nie, maar dis ook die eerste keer waar die kultuur en sport van albei skole verteenwoordig is tydens 'n interskole, en is hopelik die eerste van vele.
Die kore van die Kwaggas en die Hugenote (op foto) gaan hierdie naweek vir die eerste keer teen mekaar meeding in ‘n kultuur-interskole.
Hoërskool Hugenote se debatspan is gereed om die Kwaggas die stryd aan te sê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'