GEORGE NUUS - George-speurders ondersoek 'n inbraak by 'n juwelierswinkel in die middedorp ná Kruger-rande en juwele deur die loop van die naweek gebuit is.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het die eienaar van die winkel Sondagoggend, 3 Oktober, ontdek dat daar by die winkel ingebreek is.
"Voorlopige ondersoek dui daarop dat die verdagte(s) toegang tot die perseel verkry het deur 'n gat aan die agterkant van die gebou te maak. Verdere ondersoek toon dat 'n kluis in die onderneming oopgemaak is en dat items van 'n aansienlike, maar onbekende bedrag, gesteel is," het Pojie gesê.
Teen druktyd Woensdagoggend is niemand nog in hegtenis geneem nie.
Volgens onbevestigde inligting wat deur George Herald ontvang is, is toegang tot die juwelierswinkel vanaf die aangrensende winkel verkry deur 'n gat in die muur te maak en só die kluis te bereik. Die alarm het blykbaar ook nie afgegaan nie.
Die eienaar wou nie komentaar lewer nie.
Die polisie doen 'n beroep op enigiemand met inligting oor die voorval om die ondersoekbeampte, ao. Johan de Lange by 044 803 4734 of Stop Misdaad by 08600 10111 te kontak. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'