Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Helderskoon water wat vir die afgelope ses weke van 'n aangrensende eiendom af oorvloei na Stephan Gericke se nabygeleë plaas Tikketai, het twee van sy damme gevul en hulle loop tans oor.
Gericke is bekommerd dat dit drinkwater is wat afkomstig is uit 'n gebreekte hooftoevoerpyp wat op die grond langs sy plaas eindig.
Hy het vyf weke gelede van die situasie bewus geword toe sy broer, Buks wat ook op die plaas woon, vir hom gevra het of hy water van iewers af pomp, want die grond naby sy huis is deurdrenk. Die damme was ook besig om op te vul.
Gericke het gaan ondersoek instel op die eiendom langsaan en 'n plek gevind waar die water uitborrel. Hy sê die siviele ingenieursdepartement het nie gereageer nie hoewel hy die lek ses keer aangemeld het, selfs verlede week by die hoof van die departement en sy superintendent.
Die plek waar die water uitvloei, is geleë agter die Pacaltsdorp-polisiekantoor, waar swak waterdruk al vir 'n geruime tyd ervaar word.
"As dit drinkwater is, moet die verkoopswaarde van dit wat al uitgeloop het miljoene beloop," sê Gericke. Sy metings van die watervloei toon dat dit teen ongeveer 70 000 liter per uur loop. "Daar moes seker al 80 miljoen liter uitgevloei het. Ons moet sekerheid kry oor of dit drinkwater is. As dit wel so is, het die belastingbetaler opgedok vir die suiwering van water wat wegloop rivier toe. Dit sal ook beteken dat die munisipaliteit 'n inkomsteverlies van miljoene gely het."
Volgens Reginald Wesso, hoof van siviele dienste, het hulle ondersoek ingestel nadat Gericke die situasie verlede week persoonlik by hom aangemeld het.
"Die waterlek is op die perseel van die SAPD en nie die munisipaliteit nie. Die relevante SAPD-beamptes is dadelik in kennis gestel.
"Volgens die SAPD is die herstel daarvan ook reeds aangemeld by die departement van publieke werke vir herstel. Daar is dus geen direkte verlies aan munisipale inkomste nie, maar ons betreur ook die feit dat waardevolle water in die proses verspil is. Daar sal intern ondersoek word waarom die voorval nie dadelik ondersoek is toe dit die eerste keer aangemeld is nie."
Kommentaar van publieke werke word afgewag.
Kyk 'n video hieronder.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'