GEORGE NUUS - Die jongste instelling van beurtkrag het Suid-Afrikaners onverhoeds betrap en plaaslike sakeondernemings en privaat huishoudings moes inderhaas planne maak om alternatiewe energiebronne te kry.
Johannes van der Walt van Powerhour het aan George Herald gesê sedert beurtkrag weer ingestel is, het die vraag na alternatiewe energiebronne, soos sonkrag, 10 keer laat toeneem. Powerhour is deel van Beckers Electrical SA.
Die vraag het veral Maandag verhoog toe fase 4 aangekondig is.
"Mense het toe besef hier is probleme." En toe kom fase 6.
Volgens Van der Walt is dit veral sakeondernemings wat navraag doen. Hulle wil hul rekenaars en stelsels aan die gang hou. Daar was ook navrae van mense wat gesondheidstoerusting soos asemhalings- en suurstofapparate aan die gang moet hou.
Mense is nie lus om geld te bestee op sulke toerusting nie en sou dit eerder op vakansie wou bestee.
Volgens Van der Walt raak dit ook die vakansiebedryf. Vakansiegangers wat duisende rande vir akkommodasie betaal, wil elektrisiteit hê. Van die mense het ook groot hoeveelhede bederfbare produkte soos vleis gekoop wat in yskaste gestoor moet word.
Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi Wes-Kaap, het gesê die jongste beurtkrag kom nie op 'n goeie tyd vir die gebied nie. Kleinsakeondernemings moet oor die feestyd maksimum inkomste verdien om hulle deur die jaar te dra.
Dr. Dennis Farrell, voorsitter van die George-sakekamer, sê die kennisgewings kom soms eers op die nippertjie deur. "As iemand alternatiewe reëlings wil tref, is dit baie moeilik."
Volgens Farrel is daar op die oomblik baie meer mense in George as gewoonlik. Dit plaas druk op die infrastruktuur en wetstoepassers behoort ontplooi te word by verkeersligte tydens beurtkrag.
Farrell het benadruk daar moet verder gekyk word as na die huidige situasie van beurtkrag. Die uitdagings is dat die munisipaliteit alternatiewe energiebronne in plek moet kry. George groei en daar moet gekyk word na infrastruktuur - ongeag Eskom se kapasiteit.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'