Die voëlent in 'n boom in Camphersdriftweg lyk soos groot voëlneste. Volgens Priscilla Bugoyne, is hierdie boom gesond. Hy bot laat weens die koue weerstoestande. Foto: Alida de Beer
GEORGE NUUS - Voëlent kan die voortbestaan van George se bome bedreig. Só sê Tinus Nortjé, 'n inwoner wat sy kommer met die George Herald gedeel het nadat die munisipaliteit se parke-afdeling nie met hom wou saamstem toe hy die kwessie onder hulle aandag gebring het nie.
Voëls eet die voëlent se saad en dit word dus oral waar hulle mis, agtergelaat. Volgens Jeffrey Sass, 'n bosbouer van die Knysna-kantoor van die bosboudepartement, het die twee tipes voëlent wat in ons streek voorkom oor die algemeen nie 'n groot effek op bome nie. In die woude word dit nooit verwyder nie.
Bome in 'n stadsomgewing verkeer egter onder heelwat meer stres en voëlent kan 'n potensiële bykomende stresfaktor wees.
Voëlent se kiemwortel groei deur die bas tot in die cambium (basvate wat water en voedingstowwe vervoer) vanwaar dit kos en water opsuig. Volgens Sass is dit moeilik om voëlent te verwyder omdat die wortel saam met die plant uitgehaal moet word.
"Die wortel word so deel van die boom dat 'n mens nie eintlik kan sien waar dit groei nie. Die geaffekteerde boomtak kan seker afgesaag word as jy wil verseker dat dit heeltemal verwyder is, maar daar is natuurlik nog altyd die voëlmis met saad wat steeds op die boom agterbly."
Die George-munisipaliteit se parke-afdeling het in reaksie op die koerant se navraag gesê, "Voëlent is 'n hemiparasiet en dit parasiteer slegs gedeeltelik op die gasheerplant. Dit word nie gesien as 'n ernstige bedreiging nie, maar sal oor tyd aandag geniet net soos in die verlede. Voëlent is al meer as 50 jaar in George."
Vir Nortjé is die munisipaliteit se uitgangspunt onaanvaarbaar. Hy sê verskeie bome in Davidsonweg,
Camphersdriftweg en Wellingtonstraat is besig om deur voëlent benadeel te word en van die bome vrek.
"Die voëlent is besig om teen 'n vinnige tempo te versprei en oor 10 jaar gaan al ons mooi bome soos dié in Camphersdriftweg lyk," sê hy. Die kurator van die herbarium van die Botaniese Tuin, Priscilla Burgoyne sê 'n parasiet sal nie sommer sy gasheer doodmaak nie. "Daar is gewoonlik 'n balans in die afhanklikheid van die gasheer, anders vrek die parasiet ook."
Ná 'n besoek aan Camphersdriftweg het sy gesê die bome daar is gesond. Volgens haar is voëlent nie die oorsaak van die swak toestand van die geelhoutbome in Wellingtonstraat nie.
Geelhoutbome word nie deur die parasiet geaffekteer nie. Sy beaam Sass se mening dat stadsbome onder stres verkeer en grondkompaktering asook harde oppervlaktes soos teer of plaveisel lei daartoe dat bome minder kos en water kry.
ARTIKEL EN FOTO: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'