GEORGE NUUS - Die man wat Dinsdagoggend, 1 November, deur sy dogter (16) as vermis aangemeld is, se liggaam en voertuig is twee dae later aan die voet van 'n krans op die Voëlklippad gevind.
Kobus Breedt (64) van Heatherlands het sy huis Dinsdag in die vroeë oggendure verlaat en is daarna nie weer lewend gesien nie.
Sy jongste dogter het hom omstreeks 09:00 daardie oggend as vermis aangemeld ná sy onraad vermoed het. Die polisie het kort daarna 'n soektog van stapel gestuur.
In daardie stadium was daar 'n vermoede dat 'n voertuig Dinsdagoggend by 'n krans op die Voëlklippad afgestort het, maar die polisie kon weens rowwe seetoestande nie bevestig watter voertuig dit was nie.
Polisieduikers kon teen Donderdagoggend die liggaam uit die wrak verwyder.
Familie se steunpilaar
Breedt se broer Hannes, onthou hom as 'n liefdevolle man wat altyd liefde en ondersteuning aan sy kinders en familie gebied het.
"Ons broer was 'n chemikus by Sasol. Hy het belangrike bydraes tot die plofstofbedryf gelewer en verskeie toekennings daarvoor ontvang.
Hy het ook konsultasiewerk in Kanada gedoen om hulle prosesse te bevorder.
Hy het in George afgetree om nader aan sy plaas in Sutherland te wees.
Hy het 'n wye belangstelling in die wetenskap gehad en baie gelees en alles ondersoek. Kobus was 'n groot man met 'n klein hartjie. Hy het altyd empatie met sy medemens gehad. Hy het baie liefde en ondersteuning aan sy familie en kinders gegee. Ons as familie en sy kinders gaan ons broer baie mis," sê hy.
Sy kinders was sy alles
'n Familievriend van Breedt, wat gevra het om anoniem te bly, sê hy was intens lief vir sy dogters. "Kobus was 'n goeie mens wat ongelooflik lief was vir sy dogters (16 en 22).
"Sy oudste is reeds uit die huis en die jongste het by hom gewoon. Hulle twee het nie net 'n fantastiese vader-dogter-verhouding gehad nie, maar ook 'n hegte vriendskap. Hy het altyd haar vriende met oop arms verwelkom en haar en haar vriende gereeld op uitstappies geneem wat almal geniet het.
"Hy los 'n groot leemte in ons almal se lewens, maar veral in sy jongste dogter s'n. Sy broers, susters en sy ma is nog erg geskok en vreeslik hartseer," het die familievriend aan George Herald gesê.
Soektog
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, is die voertuig gevind ná 'n uitgebreide soek-en-reddingspoging deur verskeie nooddienste, nadat tekens van 'n beweerde voorval Dinsdag aangemeld is.
Die voertuig is Donderdagoggend, nadat die seetoestande verbeter het, opgemerk waarna polisieduikers en lede van die plaaslike NSRI die liggaam uit die voertuig kon verwyder. Geen misdaad word vermoed nie.
Teen druktyd was begrafnisreëlings nog nie beskikbaar nie.
Breedt laat sy twee dogters, 'n kleinkind, twee susters, twee broers en sy ma agter.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'