GEORGE NUUS - Die gebeier van kerkklokke kon Paassondagoggend regoor die groter George gehoor word toe 'n klomp gemeentes om 10:00 saam hul klokke vir 'n paar minute gelui het.
"Tydens die huidige moeilike omstandighede was dit 'n teken van hoop en nuwe lewe deur Jesus se opstanding," het ds. Francois Mulder, leraar van die NG kerk, Blanco-gemeente gesê.
Hy en ds. Pieter van Santen van die Tuinedal-gemeente het saam op dié gedagte gekom en ander gemeentes genooi om aan die inisiatief deel te neem.
Maar hoewel hy 'n voorbok was met die idee, moes Mulder eers sy kerk se kloktoring aandurf om te toets of hy wel die klok sou kon lui. Nadat die tou afgebreek het, het die gemeente die klok die afgelope paar jaar glad nie gebruik nie.
Toe hy verlede week die sowat 50 trappies in die toring bestyg en uiteindelik die klok kon lui, was hy so opgewonde soos 'n kind.
"Op pad boontoe het ek die gefladder van vlerke gehoor en eers gedink dis 'n duif, maar toe sien ek 'n uil. Ek was verras toe ek 'n ent boontoe op 'n voëlnes met ses eiers afkom. Ek het die uil al in die bome hier rondom ons en op die kerktoring gesien. Dis baie spesiaal.
"Die eiers is vir my 'n simbool van nuwe lewe, die embriofase voor die geboorte soos daar vir ons nuwe geboorte is anderkant die graf deur Jesus se opstanding."
Toe Mulder Sondag weer opklim om die klok op die ooreengekome tyd te gaan lui, was die uil op die nes. "Ons het ewe groot geskrik toe ons mekaar sien." Die uil het uitgevlieg, maar is na die luiery ongeskonde terug na die nes.
Ds. Francois Mulder tydens sy oefenlopie met die kerkklok verlede week met 'n pragtige uitsig oor Blanco in die agtergrond. REGS: Die nonnetjie-uil se nes. Die uil het uit die toring uit gevlieg toe Mulder opgeklim het, maar is na die klok se lui ongeskonde terug na die nes. ONDER: Francois Mulder het te laat daaraan gedink om oorproppe saam te neem toe hy Sondag die Blanco-gemeente se klok gaan lui het. "Dis dié dat ek steeds effens duiselig voel!" het hy agterna gesê.
Die NG gemeentes van Uniondale en Herold was onder die gemeentes wat deelgeneem het, asook ander denominasies in Blanco.
"Ons wou hierdeur ons solidariteit en eenheid uitdruk. Ons is almal saam in hierdie moeilike tyd, maar ons kan feesvier omdat Jesus die dood oorwin het. Ons het 'n belofte van nuwe lewe. Die graf is leeg," het Mulder gesê.
Die Nonnetjie-uil se nes. Die uil het uit die toring uit gevlieg toe ds. Mulder opgeklim het, maar is na die klok se lui ongeskonde terug na die nes.
Klok in 1973 gemaak
Die Blanco-kerk se kloktoring is in 1975 saam met die kerkgebou voltooi. Ds. JR Müller het die kerk se hoeksteen op 12 Oktober 1974 gelê. Op die klok is die datum 1973 gegraveer en Mulder sê dit is waarskynlik van Europa af laat kom.
"Oom Martin Weideman, tannie Annatjie, een van ons lidmate se oorlede man, het die kerk en kloktoring gebou en die klok geïnstalleer. Die boonste deel van die kerktoring het 1 ton geweeg en oom Martin het dit opgesit met steierwerk en toue."
Die klok dra die datum 1973. Dis vermoedelik van Europa af ingebring en in 1975 tydens die kerk se konstruksie geïnstalleer.
Verwante artikel: Dominee en uil skrik ewe groot
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'