GEORGE NUUS - Met 'n kattebak vol klippies en harte vol herinneringe het Ronel Vermaak en haar twee dogters, Inge en Yannika, op 8 Julie die pad van Parow na George aangepak.
Maar dit was nie 'n sorgelose pretrit of vir 'n vakansie langs die Tuinroete nie.
Dié roete oor bykans 410 km is afgelê ter nagedagtenis aan Vermaak se oudste dogter, Amorei (26), wat op 10 Julie verlede jaar tragies en ontydig uit haar lewe geruk is.
Met 365 handgeverfde gedenkklippies, een vir elke dag sedert Amorei weg is, het haar ma en susters vir die eerste keer ná haar dood, na George teruggekeer. Dié keer om haar lewe te herdenk.
In Worcester, Robertson en Heidelberg, by 'n paar van haar gunsteling-stilhouplekke, is daar ook klippies vir Amorei gelos.
Agterop op elke klippie is instruksies van hoe foto's en stories op Facebook gedeel kan word. "Dit sal ons baie gelukkig maak om te sien wie die klippies opgetel het, asook wat dit vir die persoon beteken het," sê Vermaak.
In George is klippies by al Amorei se gunstelingplekke, en dié wat haar gesin aan haar laat dink, neergesit. Klippies is onder andere in Wilderness, die botaniese tuin, die Tuinroetedam en Victoriabaai gelos. 'n Spesiale besoek is by Heroldsbaai afgelê waar die Suid-Kaap-kinderkoor (SKKK), waarvan Amorei deel was, gereeld gekamp het.
As jy gelukkig is, kry jy dalk 'n klippie in jou tuin of in jou posbus, want Ronel, Yannika, Inge en drie van Amorei se beste vriendinne, Eske Meyer, Evandi Hurter en Monette Meyer, het besluit almal moet vir Amorei onthou en het klippies by verskillende plekke regoor George gelos.
"Reitjie leef voort in die herinneringe van haar vriendinne. Ek besef net weer hoe sterk 'n mens regtig is en hoe belangrik dit is om te onthou. Nie net altyd die goeie nie, maar ook dit wat minder goed is. Die lewe gaan aan en mense vergeet, maar iemand soos Amorei sal nie maklik vergeet word nie. Ons mooi herinneringe sal haar altyd in ons harte en gedagtes hou," het haar ma op 'n plasing op die Facebook-groep, Amorei Vermaak gedenkdiens, geskryf.
Vermaak en haar dogters het dag vier van hul vyf dae lange gedenkrit bestee deur klippies neer te sit op al die plekke waar die SKKK destyds in George opgetree het.
"Die klippie-toer was 'n reis oor gister: herinneringe wat altyd sal bly en deel sal wees van ons vandag en môre. Elke nuwe dag bring nuwe hoop en mettertyd dalk aanvaarding. Vir nou was die reis iets wat ons moes doen. Die helingsproses is lank en moeilik, maar ja, die son sal mos weer skyn," sê Vermaak.
Ronel Vermaak en haar twee dogters, Yannika (middel) en Inge, het ook klippies in die Tuinroete Botaniese Tuin in George, neergesit.
Hul reis het Maandag 12 Julie tot 'n einde gekom ná hulle nog 'n paar plekke, onder andere Amorei se huis in George, besoek het en klippies neergesit het.
"Die seer van 'n jaar sonder Reitjie lê vlak. Niks kan die gat in jou bors beskryf nie. Al wat ons nou kan doen is om te hoop dat dit mettertyd beter sal gaan - dat die hartseer wat jou wese vul, jou sal dryf om weer die toekoms met vreugde in te gaan. Vir nou sal ons ons klippies plaas. Ons het gelag, gehuil, gesels, gewonder en onthou. Ons voel geseënd met die jare wat ons vir Reitjie op aarde gehad het. Dit was 'n voorreg wat geen mens kan beskryf nie. Hierdie reis na gister was nodig. Dit was goed vir ons. Goed vir liggaam, siel en gees."
Klippies is ook op verskeie plekke in Wilderness neergelê.
Amorei het in 2012 aan Hoërskool Outeniqua gematrikuleer. Na skool het sy na die Kaap verhuis om by haar ma in te trek en sowat vyf jaar ná sy haar kêrel, Stephen Fleck (31) ontmoet het, het hulle weer na George verhuis.
Sy is op 10 Julie 2020 tragies in George oorlede. Haar liggaam is saam met dié van haar kêrel in hul huis in Bergsig aangetref.
Een van die gedenkklippies wat by die getypoel in Heroldsbaai neergesit is.
365 klippies vir elke dag van die jaar sedert Amorei (Reitjie), oorlede is, is met die hand deur vriende en familie van Amorei geverf.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'