SUID-KAAP NUUS - Die afsterwe van 'n Oakdale-leerder, Stian van Greunen (16) verlede week, het die realiteit van kanker by tieners weer eens die gemeenskap geruk.
Die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) streef daarna om gedurende September, die maand vir Internasionale Kinderkankerbewusmaking, bewustheid te verskerp van die simptome van kankers wat tieners teiken.
Verkeerdelik gediagnoseer
Cara Noble, Kansa se nasionale bestuurder van die Tough Living with Cancer (TLC)-program, sê: "Na raming bereik twee derdes van kinders met kanker nooit 'n spesialissentrum vir behandeling nie. Die meerderheid van hulle wat wel kankersentrums bereik, is ongelukkig alreeds in 'n gevorderde fase van die siekte. Die simptome van kankers wat jongmense raak is soortgelyk aan die algemene simptome van baie ander siektes. Dit veroorsaak dat tieners met kanker dikwels verkeerdelik gediagnoseer word."
Noble meen daar moet 'n nougesette poging deur die regering wees om ouers, mediese en kliniese kliniekpersoneel te onderrig en op te lei om bewustheid te skep rondom die simptome van tienerkanker. Die waarskuwingstekens van kanker in tieners kan verkeerdelik toegeskryf word aan groeipyne wat verband hou met hierdie ontwikkelingstadium of met normale sportbeserings wat hul mag opdoen omdat hulle meer aktief is.
Ken die tekens
Die St Siluan-waarskuwingstekens kan verkry word op Kansa se webwerf by https://www.cansa.org.za/warning-signs-childhood-cancers, sowel as 'n lys van vrae om jou gesondheidpraktisyn te vra as jou tiener met kanker gediagnoseer is.
"Die oorsaak van die meeste kankers wat tieners raak, is nie bekend nie.
Huidige internasionale data dui daarop dat 10% van tieners wat met kanker gediagnoseer word, 'n genetiese geneigdheid daartoe kan hê en dat tieners met MIV 'n groter risiko het vir sekere soorte kankers soos Kaposi-sarkoom en nie-Hodgkins limfoom. Die mees algemene kankers wat tieners raak is nie-Hodgkins en Hodgkins limfoom, been- en sagteweefselkankers (sarkome), Kaposi-sarkoom en leukemie," voeg Noble by.
Ondersteuning
"Die Kansa Tough Living with Cancer (TLC) ondersteuningprogramme vir kinders en tieners gebruik 'n holistiese benadering om die emosionele en maatskaplike welstand van ouers (voogde), kinders of tieners en hul broers en susters te ondersteun. Hierdie benadering sluit onder andere in: inligting rakende kanker, ondersteuningsgroepe, bystand met prostesis, ports/broviacs en mediese toerusting, die verskaffing van hospitaal/saal-ondersteuningprogramme, kos en basiese noodsaaklikhede in pakkies vir families in nood asook verblyf vir ouers (voogde) naby behandelingsentrums by TLC-tuistes.
Skakels
https://www.cansa.org.za/warning-signs-childhood-cancers
https://www.cansa.org.za/cansas-care-support/tlc-for-youth-and-families-affected-by-cancer/
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'