GEORGE NUUS - 'n HOP-huis in Sierissiestraat, New Dawnpark, is beskadig toe die keerwal agter die huis Saterdagoggend, 21 Oktober, weens die reën ineengestort het.
Dit blyk dat die grond so deurdrenk was, dat die sementblokke wat die wal moes stabiliseer, nie meer in plek kon bly nie en tot teenaan die huis afgegly het.
Die huiseienaar, Linda Heynes, sê die agterstoepie van hul huis het in die slag gebly. "Ons het die stoep onlangs toegebou om onsself te beveilig. Ons sal dit nou moet oordoen, maar het nie eintlik die geld nie. Die skollies het al klaar probeer om in te kom nadat die wal ineengestort het."
Sy was nie tuis toe dit gebeur het nie. "My kinders was alleen en ek is net dankbaar hulle het niks oorgekom nie."
Heynes sê die ongeluk ry hulle die afgelope tyd.
"Net drie weke gelede het 'n skollie my dogter hier voor die huis van haar handsak beroof. Ek is so moedeloos."
Sy sê die munisipaliteit het die keermuur jare gelede gebou toe hulle by die huis ingetrek het. In die laaste tyd was hulle bekommerd omdat water deur die blokke gestroom het wanneer dit reën.
Die munisipaliteit se kommunikasiebestuurder, Chantèl Edwards, het gesê 'n ondersoek na die aangeleentheid het getoon dat die keermuur by dié adres privaat gebou is en dat die huiseienaar self verantwoordelik is vir die herstelwerk.
Die deur en 'n klein stoep is beskadig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’