GEORGE-NUUS - "Ek wou ons spaargeld gebruik om ‘n koffiemasjien te koop, maar daardie Sondag in die kerk toe pastoor Ockie ons van Angus Buchan se Mighty Men Conference vertel, het ek geweet dís waarvoor die geld eintlik is..."
Só het Frikkie Botha, ‘n karwag wat al meer as ‘n jaar by die Garden Route Mall ons motors veilig bewaar, Dinsdagoggend vir die George Herald gesê. Frikkie en sy kollega (en woonstelmaat), Raymond Linford het die naweek die Mighty Men Conference in KwaZulu Natal bygewoon.
"Ons spaar al lank," vertel die twee. "Ons het net nooit geweet waarvoor nie! Maar twee weke gelede, in die kerk, het ons geweet. Ons moet vir Angus gaan luister."
Die twee het hul plekke bespreek en verlede week die 17-uur lange reis saam met sewe ander mans van die Soteria AGS-gemeente aangepak.
"Met ons aankoms op Shalom - Buchan se plaas buite Greytown - was daar karavane en tente net waar jy kyk," vertel hulle.
"Meer as 200 000 mans het die saamtrek bygewoon - dis meer as al die mense wat in George bly! Dit was enorm!"
Volgens die twee was daar mans van alle kleure en rasse: "Almal het vir daardie drie dae in harmonie saamgeleef - niemand het gevloek of gedrink of gejaag nie. Dit was nie belangrik of jy ‘n predikant of ‘n karwag was nie - almal was daar met een doel: Om nader aan God te wees."
Frikkie vertel: "Angus se boodskap was baie duidelik: Ons moet ophou jaag en vir ‘n slag rustig raak. Mans moet hul families saam kerk toe neem en hul vrouens respekteer.
"Hy’t ook gesê good men don’t go to heaven, believers go to heaven. Ons sal hierdie treffende woorde altyd ont-hou."
Boodskap vir George se mense
"As mense nader aan God lewe, sal hulle lewenstyl ver-ander," glo Raymond en Frikkie. "As jy die Here nie elke dag by jou het nie, het jy niks! Ons kan rykdom verloor ... maar as jy God verloor, bly daar niks oor nie."
Dankie, George
"Sonder die mense van George se hulp sou ons dit nooit reggekry het om genoeg geld te spaar nie," voeg dié twee mighty manne by. "Elke 50c, elke R2 het gehelp. Baie dankie vir julle vrygewigheid!"
Artikel en foto: Tanya Watson