GEORGE NUUS - Die polisie het vandeesweek bevestig dat kapt. Mzwandile Kama vanaf 1 Junie sal waarneem as stasiebevelvoerder by Pacaltsdorp-polisie. Gerugte dat Pacaltsdorp 'n nuwe stasiebevelvoerder gaan kry het verlede naweek op sosiale media die rondes begin doen.
Kama vervang kol. Hans Blaauw wat na verneem word, gister by die George-polisiestasie aangemeld het. Dit is egter onduidelik waar Blaauw gestasioneer sal word.
Sers. Chris Spies, die provinsiale polisie-woordvoerder, sê Kama het 34 jaar ervaring in die polisiediens en werk sedert 2005 by Pacaltsdorp.
"'n Proses om die vakante pos van stasie-bevelvoerder te vul is aan die gang en ons verseker die publiek dat dienslewering nie negatief deur die veranderings beïnvloed sal word nie," het Spies bygevoeg.
George Herald het in 'n skriftelike navraag gevra wat die redes vir die skuif is en of dit te doen het met inwoners se klagtes oor swak dienslewering en die bestuur van die stasie.
Hierop het Spies gesê vrae oor bestuurs-besluite wat met die administrasie te doen het gaan nie in die media bespreek word nie.
Tydens 'n vergadering in New Dawn Park op 16 April het Blaauw onder skoot gekom toe inwoners hul ontevredenheid oor swak dienslewering gedeel het. Klagtes het gewissel van stadige reaksietyd van polisielede, telefone wat nie beantwoord word nie, geen terugvoer op sake wat aangemeld word nie, geen polisiesig-baarheid nie en dwelm-smokkelhuise wat toegelaat word om met die medewete van die polisie voort te bestaan. Disrespek van polisielede teenoor lede van die publiek by die stasie is ook aangemeld.
Soortgelyke klagtes is verlede week op die mediakonferensie met die Wes-Kaapse polisiebestuur onder leiding van lt.genl. Thembisile Patekile gedeel tydens 'n besoek aan die streek.
Moenie imbizo in Pacs môre misloop
'n Imbizo waar die Tuinroete-distrikskommissaris, generaal-majoor Norman Modishana met gemeenskapsleiers en die publiek in gesprek gaan tree, vind Vrydag 2 Junie om 17:00 by New Dawn Park Primêr in Pacaltsdorp plaas. Hierdie vergadering is oop vir die publiek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’