Jongensfontein, ‘n klipgooi van Blombos waar sensasionele argeologiese opgrawings gemaak is en ‘n hanetreetjie buite die meer bekende Stilbaai, is een van hierdie "geheime" paradyse wat selfs deur baie inwoners van die streek nog nie besoek is nie.
Talle Suid-Kaaplanders het nog nie hierdie pragtige baai met sy onbelemmerde uitsigte oor die see en rustige atmosfeer ervaar nie. Hulle weet nie watter ongerepte paradys buite hul drumpels wag nie.
‘n Eerste besoek aan hierdie juweel langs die kus is ‘n ervaring wat nie uitgewis kan word nie. Mens vergeet net nooit die pragtige baai met die klotsende branders oor die lae rotse en sand-swemplekkies nie.
In die somerseisoen wemel hierdie baai van die vakansiegangers wat almal mekaar een of ander tyd raakloop en ‘n geselsie aanknoop. Die grootste gevaar vir hierdie uitsonderlike vakansieplek is dat die eiendomsontwikkelings soos paddastoele opskiet, maar ontwikkeling kan nie sonder meer gestuit word nie. Dit is te hope dat ontwikkelings wat wel goedgekeur word, deeglik oorweeg en sinvol sal wees.
Sommer nog in die onlangse verlede was die Jongensfonteiners soos een groot familie wat jaarliks daar gaan uitspan het, maar nuwe ontwikkelings het oornag verrys en die atmosfeer dramaties verander.
Behalwe die vakansiehuise en gastehuise bied die strandoord ook ‘n munisipale woonwapark met chalets wat ‘n indrukwekkende uitsig oor die baai bied en teen die seefront geleë is. Die chalets word ooglopend baie goed bestuur, is skoon en netjies en baie bekostigbaar met die meeste basiese benodigdhede in die kombuis en slaapkamers. Almal is ook van braaiplekke met ‘n onbelemmerde uitsig oor die see voorsien.
Die woonwastaanplekke is ook baie netjies, goed ingerig en sommige beskik oor die wonderlikste melkhoutbome wat beskerming teen son en wind bied.
Die mense wat die ontvangskantoor beman is vriendelik, behulpsaam en laat die besoeker dadelik tuisvoel.
As mens hierdie paradys eenkeer besoek het, brand daar ’n verlange om weer so te maak. Veral die af-seisoen bied ‘n rustigheid wat die grootste bate is.
.jpg)
‘n Paar van die netjiese chalets in die munisipale woonwapark by Jongensfontein.
.jpg)
Wat is nou lekkerder as ‘n vlammende vleisbraaivuur met die geruis van die branders in die agtergrond?