Update
GEORGE NEWS - Huisares vir vyf jaar, met 'n vyf jaar opgeskorte vonnis. Dít is die vonnis wat oudraadslid Henry Jones (64) vanmiddag in die George-landdroshof ontvang het.
Jones is vroeër skuldig bevind op vier aanklagte van bedrog wat verband hou met die onwettige verkoop en koop van staatsgesubsidieerde huise tydens sy termyn as portfeuljeraadslid vir behuising.
Landdros Praglathan Govender het beslis dat Jones aan rehabilitasieprogram moet deelneem, sowel as 16-uur gemeenskapsdiens per maand vir die vyf jaar tydperk. Govender het benadruk dat dit slegs Jones se gesondheidstoestand is wat hom weerhou het om direkte tronkstraf as vonnis te lewer.
Die verslag van 'n maatskaplike werker, sowel as die insette van Eddie Myners, die hoof van korrektiewe dienste op George, het daarop gedui dat direkte gevangenisstraf nie noodwendig die regte roete is om te volg nie.
Myners het vanoggend in die hof gesê dat daar geen korrektiewe fasiliteit in die Wes-Kaap is wat vir iemand met Jones se siektetoestand kan akkomodeer nie.
Jones het kolonkanker onder lede en dra 'n sakkie wat gereeld leeg gemaak moet word. Hy is ook 'n diabeet en het hartkwale. Sy pasaangeër word in Junie vervang.
"Die rede waarom jy vandag uit hierdie hof stap is bloot weens jou mediese toestand," het Govender gesê. Jones is gewaarsku dat, indien hy gesien word waar hy inkopies doen of gholf speel, of in die gemeenskap rondbeweeg, hy direkte tronkstraf kan verwag.
Jones het na die afloop van die hofsaak gesê dat hy sy vonnis aanvaar. Hy het ook die gemeenskap om verskoning gevra vir enige leed wat hy hulle aangedoen het.
Jones is deur Legal Aid verteenwoordig en die staatsaanklaer was adv. Xolile Jonas.
Vorige arikels:
- Verslag van korrektiewe dienste benodig vir Jones se vonnisoplegging
- Jones skuldig op vier aanklagte van bedrog
- Jones skuldig bevind op vier aanklagte van bedrog
- Uitspraak in Jones-saak einde Januarie
- Jones-uitspraak in Desember
- Behuisingsbedrog: Jones binnekort weer in hof
- Jones getuig oor 2 weke
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’