GEORGE NUUS - Matthew Papi (52), het Dinsdag 27 September in die George-landdroshof verskyn ná hy twee dae vantevore op aanklag van moord in hegtenis geneem is.
Papi, 'n petroljoggie, word daarvan beskuldig dat hy in die vroeë oggendure van Sondag 25 September, 'n hawelose man, Ronald Nelson (39), met 'n knopkierie geslaan het. Nelson is teen die kop getref en is op die toneel dood.
Volgens Suid-Kaapse polisie-woordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het 'n bakleiery omstreeks 02:20 naby die Caltex-vulstasie in Yorkstraat tussen Nelson, sy broer Morné en Papi ontstaan.
"Die oorledene is glo deur die verdagte met 'n knopkierie geslaan ná die oorledene en sy broer die verdagte met klippe bestook het," sê Pojie.
Nelson en sy broer is albei haweloses van George. Hul ma, Johanna van Dyk, wat ook in George bly, sê sy is in rou gedompel ná haar jongste seun op so 'n manier uit haar lewe geneem is.
Sy word op 6 Oktober 70.
Volgens Morné was hulle op pad huis toe van 'n nagklub langs die vulstasie waar hulle gedobbel het, toe die voorval plaasgevind het.
"Ons wou iets gaan kry om te eet, maar die petroljoggie het ons die winkel geweier," sê hy.
Hy sê 'n bakleiery het ontstaan en die verdagte het sy broer met een hou doodgeslaan.
Volgens 'n ooggetuie, wat verkies om anoniem te bly, was die oorledene en sy broer kort vóór dié voorval, in 'n ander bakleiery by 'n bushalte buite die nagklub betrokke.
Volgens die bestuurder van die vulstasie is daar kringtelevisiebeeldmateriaal van die voorval in die polisie se besit.
Hy wou in dié stadium nie uitbrei oor voorval nie.
Die saak is uitgestel tot Woensdag 5 Oktober vir Papi se borgtogaansoek.
Die oorledene se familie sê hulle is nie in 'n finansiële posisie om die kostes van 'n begrafnis te dek nie. Hulle vra enigiemand wat moontlik 'n bydra kan lewer om vir Johanna van Dyk by 071 000 2376 te skakel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'