GEORGE HERALD NUUS - Jackie Kruger, bekende Suid-Kaapse joernalis sê jy kon haar met 'n veertjie omtik toe sy hoor dit is 'n slang wat haar gepik het.
Haar lewe is op Donderdagaand 22 Februarie in 'n oogwink verander. Sy word as baie gelukkig geag dat sy oorleef het.
Sy het die middag na werk huis toe vertrek en die mooi pad na haar woonplek in Hoekwil, Wilderness aangedurf.
Min het sy geweet wat in die volgende paar uur sou wag.
Nadat Kruger by die huis aangekom het, het sy haar gewone roetine gevolg en vir haar troeteldiere begin kos gee.
Kort na 19:00 is sy na buite om haar hase vir die nag toe te maak. Dit was al amper donker en sy het plakkies gedra.
In 'n stadium het sy 'n geweldige brandpyn gevoel. Haar eerste reaksie was dat sy in 'n stuk draad getrap het.
Sy kon niks sien nie. Allermins 'n slang. Binne in die huis het sy gesien haar regtervoet is vol bloed.
Sy het dit dadelik skoon gemaak en steeds niks vreemds vermoed nie.
Later die aand het sy geskrik. Haar voet en been het erg geswel en sy kon skaars loop.
Sy het ook naar gevoel en baie pyn gehad.
Dit was al laat en sy wou niemand pla nie. 'n Nag van hel het gewag. In een stadium het sy 'n besem as 'n kruk gebruik om by die badkamer te kom.
Die volgende oggend het sy 'n vriend laat weet, in haar motor geklim en na George gery.
Steeds het sy nie geweet dit is 'n slang wat haar gepik het nie.
In George het die vriend haar in sy voertuig gehelp en dadelik na 'n dokter geneem.
Toe sy die dokter se gesigsuitdrukking sien, het sy besef daar is probleme. Hy het dadelik vermoed dis 'n slang.
Sy is onmiddellik in 'n hospitaal opgeneem waar dit bevestig is dis 'n slangbyt.
Kruger is die Sondag oorgeplaas na die hoësorgeenheid en is 'n paar dae later teruggeplaas na 'n gewone saal.
Jackie Kruger wys waar die slang haar op haar regtervoet gepik het. Sy word in die Mediclinic George behandel. Foto's: Eugene Gunning
Sy sal moontlik later die week ontslaan word en sal na verwagting ten volle herstel.
Sy is oorweldig deur al die belangstelling en hulp. Sy sal weer buite stap.
"In die toekoms sal ek net versigtiger wees. Ek raai mense aan om skoene vir beskerming te dra."
Sy kan nie wag om huis toe te gaan en weer haar honde en hase te sien nie.
Artikel: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'