Jakkie van der Colff en sy seun Marius by 'n vulstasie in George toe hulle Maandag in gure weer deur George gery het. Foto: Alida de Beer
GEORGE NUUS - 'n Oupa van Pretoria is Maandag in reën en koue deur George op 'n fietsreis van duisende kilometer reg rondom Suid-Afrika - op sy eentjie.
Jakkie van der Colff (72) het op 31 Mei van die Kasteel in Kaapstad vertrek en beoog om binne 85 dae weer by die Moederstad in te trap, wat beteken hy moet 'n gemiddeld van tussen 80 en 100 km per dag op sy fiets aflê.
Aanvanklik het die idee van so 'n reis by hom posgevat toe hy gesoek het na 'n persoonlike uitdaging, maar dit het uiteindelik ook 'n poging geword om geld in te samel en bewusmaking te skep vir twee organisasies wat hom na aan die hart lê. Die Instituut vir Blindes in Worcester is alombekend. Die tweede organisasie, Ribbons for Roses, staan mense by wie se kinders kanker het, maar wat nie mediese versorging kan bekostig nie. "Dit vat aan jou hart as jy na hierdie mense se stories luister. Die ouers is magteloos," sê Jakkie.
Hy is ook passievol oor die Instituut vir Blindes se Droomfonds wat die aankoop van dinge soos kunsoë moontlik maak. "'n Kunsoog moet elke sewe jaar vervang moet word," verduidelik hy.
Die vreugde wat hy en ander uit sy avontuur gaan put, het aanleiding gegee tot die naam vir sy projek, 'Trap vir Vreugde'. Jakkie dra die onkoste van sy reis self en het ook uit eie sak geldelik bygedra tot sy geldinsameling.
Jakkie, 'n oupa van vyf, is nie 'n aktiewe fietsryer nie, maar hy het verlede jaar van Pretoria na Kaapstad gery in 'n tyd van "minder as my ouderdom".
Sy seun Jaco het besluit sy bestaande fiets is nie geskik vir die marathon rondom die land nie en 'n nuwe model gaan koop. Sy ander seun, Marius het ander noodsaaklike toerusting geskenk en hulle ma, Marie, het haar man afgesien met "genoeg kos om 'n spazawinkel te voorsien", lag Jakkie.
Hy wil so na as moontlik aan die kuslyn en landsgrense hou en sal sy pad deur die Kruger Wildtuin moet vind en die Kalahari en Weskus se winterkoue moet trotseer. Jakkie het sy tent en slaapsak ingepak, maar tot op hede het hy nog elke aand warm geslaap danksy die gasvryheid van mense wat hy op pad teëgekom het.
Hou sy vordering dop op die Trap vir Vreugde Facebook-blad. Bankbesonderhede vir skenkings is ook daar beskikbaar, of bel Irene van die Instituut vir Blindes by 083 604 1997.
Jakkie kan gekontak word by 083 655 7025.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'
Posted on: 06:00 Thu, 12 June 2014
Your Comments
Confirmed Covid-19 cases in Garden Route District: