GEORGE NUUS - George-skrywer Jaap Rabie se boek, Die De Zalze Moorde - die storie agter die storie is verlede Donderdag in Durbanville by Bargain Books in Willowbridge bekendgestel.
Dit vóór die einde van die uitgerekte hofsaak waarin Henri van Breda teregstaan op aanklag van die moord op sy ouers, Martin (54) en Teresa (55), en broer, Rudi (22).
Die plan was aanvanklik om die boek eers uit te gee wanneer die hofsaak afgehandel is.
Rabie het in 'n telefoniese onderhoud uit die Kaap gesê Georgiete kan verwag om die boek binne die volgende week op die rakke by die plaaslike takke van Bargain Books en Wordsworth te kry.
Die skrywer en sy uitgewer, Publishing World SA, het verlede week Dinsdag (24 Oktober) besluit om te publiseer en Woensdag is die eerste kopieë gedruk.
"Ons het die besluit om vroeër te druk, geneem nadat die neurochirurg (dr. Mike du Trevou) getuig het.*
"Ons het gevoel dat daar niks veel verder van belang gaan kom nie.
"Om die waarheid te sê, die regter het op 'n stadium verveeld gelyk en agteroor in sy stoel gelê. My boek is op datum tot verlede Dinsdag. Dit is net Henri wat nog gaan getuig."
Die drie lede van die Van Breda-gesin is in die vroeë oggendure van 27 Januarie 2015 in hul huis op die De Zalze-landgoed in Stellenbosch met 'n byl aangeval en vermoor.
Henri se suster, Marli (16 ten tyde van die voorval) het die aanval oorleef.
Henri staan ook tereg op aanklag van poging tot moord en regsverydeling.
Rabie het eksklusiewe inligting in die boek wat hy uit die binnekringe van Teresa van Breda se kant van die familie ontvang het.
Hy het 'n vertrouensverhouding opgebou met Leenta Nel, Teresa se ouer suster, wat in Kanada woon.
Nel was vir twee weke in die Kaap om die hofsaak by te woon en vir Henri te ondersteun. Rabie het vroeër aan die George Herald gesê sy inspirasie vir die boek het ontstaan nadat hy die familieverwantskap tussen Nel en Teresa ontdek het.
Hy was jare gelede bevriend met Nel.
In die boek vertel van die ander susters en vriendinne ook eksklusief van hul laaste gesprekke met Teresa.
Oor die uiteinde van die hofsaak sê Rabie, "Ek dink Henri gaan onskuldig bevind word, want die staat het bloot nie hulle saak bo alle redelike twyfel gestel nie.
"Waar die staat spesialisgetuies oor aspekte soos DNS en haarmonsters gehad het, het die verdediging die teenoorgestelde gesê, en dit was gerespekteerde spesialiste.
"As twee spesialiste twee teenoorgestelde opinies huldig, dan is die kans 50% dat die een of die ander reg kan wees en dan is die getuienis nie bo alle redelike twyfel nie."
Gevra wie of daar 'n ander moontlike skuldige is, antwoord Rabie, "Daar is sekere leidrade wat die polisie nie opgevolg het nie, en daaroor sê ek meer in my boek.
"So lees my boek. Daar is ook ander openbarings. Ek is die enigste skrywer (oor die De Zalze-moorde) wat met Henri gepraat het. In my boek is ons volledige gesprek."
En wat dink hy van Henri? "Henri lyk onskuldig, maar ek kan nie sê hy is onskuldig nie."
Rabie is uiters verlig dat die boek uiteindelik klaar is. "Ek werk gewoonlik drie tot vier maande aan 'n boek, maar hierdie het my 'n stuk of 10 maande gevat, want die hofsaak is so uitgerek."
Rabie wil 'n opvolgboek takel en het met Henri oor die moontlikheid gepraat, maar sê dis nie gefinaliseer nie.
"Henri het baie selfvertroue, so dalk doen hy dit self."
(*Dr. Du Trevou het getuig dat dit moontlik is dat Henri 'n ligte breinbesering opgedoen het wat sou kon veroorsaak het dat hy vir twee uur en 40 minute bewusteloos was.
Henri het in sy pleitverduideliking gesê dat hy eers sy bewussyn herwin het toe dit lig was. Hy het die nou alombekende noodoproep eers die oggend ná die voorval gemaak.)
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'