GEORGE NUUS - Takke, motorbande, klippe en ander soliede items wat vermoedelik deur kwajongens in mangate gegooi word, is die hoofrede vir verstoppings in Maraiskamp.
So het die direkteur van siviele ingenieurswese, Reggie Wesso, geantwoord na aanleiding van 'n artikel in verlede week se George Herald wat rioolprobleme in Stompneusstraat uitlig.
"Die klagtes is ondersoek en die hoofrede vir verstoppings is as gevolg van ongewenste items wat deurlopend deur mense in die onmiddellike omgewing van daardie rioolpype in toilette afgespoel word of in rioolmangate gegooi word," het Wesso gesê.
Hierdie items sluit in babadoeke, sanitêre doekies, koerantpapier, lappe, vetterige kos of vet.
Wanneer riool oorloop maak die munisipaliteit die verstopping oop en maak skoon waar riool binne-in huise oorgeloop het. Die areas word gewoonlik afspoel en met chemikalieë behandel.
Motorbande, stukke hout en ander soliede items word in mangate gegooi.
Volgens Wesso kan dit gebeur, veral na-uurs of wanneer daar slegs skofpersoneel beskikbaar is, dat die omgewing rondom die probleemarea nie dadelik skoongemaak word nie. Hy het gesê dit gebeur omdat daar ander huise is waar verstoppings ook dringend oopgemaak moet word.
Maraiskamp se rioolprobleme word veroorsaak deur kinders wat kwaaddoen en allerlei gemors in die mangate gooi, het die direkteur van siviele ingenieurswese, Reggie Wesso, gesê.
"Die munisipaliteit gaan weer terug om skoon te maak, of soms maak die grondeienaars sommer self buite skoon, maar dit gebeur soms dat daar 'n 'na-klankie' agterbly waar, byvoorbeeld, rioolwater in grond ingesyfer en hard geword het," het Wesso gesê.
Indien ongewenste reuke voortduur, kontak die munisipaliteit by 044 801 9262.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'