GEORGE NUUS - Kritiek is uitgespreek na die voorval die afgelope naweek, Saterdag 13 Maart, waarin 'n ondergrondse waterpyp in Heriotrylaan, Denvarpark gebars het. Inwoners was onder meer etlike ure sonder water.
George-burgemeester, Leon van Wyk, het Dinsdag by navraag gereageer oor kritiek dat infrastruktuur nie meer in stand gehou word nie.
Volgens hom word instandhouding van infrastruktuur wel gedoen. Die afstand van waterpype in George beloop sowat 900 km en daar is nie genoeg geld om infrastruktuur te vervang nie. Infrastruktuur moet waarskynlik elke 30 jaar vervang word. Hy besef daar is pype wat moontlik vervang moet word.
"Jy moet gaan kyk waar is die probleme. Elke munisipaliteit in die land het die probleem."
Daar word gepoog om elke jaar geld vir onderhoud beskikbaar te stel. "Ons sal voortgaan daarmee."
Dr. Jaap Steenkamp, bekende inwoner wat onlangs aangedui het hy kyk na die moontlikheid om 'n Inwoners- en Belastingbetalersvereniging te stig, het gesê daar moet aanvaar word dat pype bars. "Die goed gebeur maar."
Hy wou nie oor die spesifieke voorval kommentaar lewer nie. Hy het egter in die algemeen daarop gewys dat dit belangrik is om infrastruktuur soos byvoorbeeld waterpype, paaie en elektrisiteits-infrastruktuur gereeld en goed na te gaan en in stand te hou.
In George was daar die afgelope tyd etlike voorvalle van pype wat gebars het asook elektrisiteitsonderbrekings. By dit is daar nog beurtkrag wat wel buite die beheer van die munisipaliteit is.
Steenkamp het benadruk dat dit 'n pluspunt is dat die munisipaliteit vinnig optree in noodsituasies soos 'n pyp wat bars. "Ons moet dankbaar daarvoor wees."
Hoe raak dit die eiendomsmark
Eiendomsagente het gesê die voorval raak nie die eiendomsmark in die gebied nie. Piet Burger, bestuurder van Just Property George, het gesê hulle het geen negatiewe kommentaar na die voorval ontvang nie. Niemand het ook afsprake gekanselleer nie.
Hy het gesê daar is baie meer voordele om eiendom in George te koop as 'n pyp wat bars. Dis steeds 'n baie gewilde gebied. Daar moet ook in gedagte gehou word dat die munisipaliteit dadelik begin het met herstelwerk en voortgegaan het, al het dit begin reën.
Deon Kleyn, eienaar van Southern Cape Properties, het gesê dit was nie 'n sinkgat nie. In die geval het die grond nie ingeval nie. Die grond het verspoel. Volgens hom sal dit nie die belangstelling in eiendomme in die gebied beïnvloed nie. Dit bly steeds 'n gesogte gebied.
'n Deel van die gat waar 'n ondergrondse waterpyp gebars het.
Foto's: Eugene Gunning
Verwante artikel: Sinkholes not common in George
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'