Update
GEORGE NUUS - Ná spoedige optrede deur die George-polisie, kan inwoners van Blanco 'n klein bietjie rustiger slaap.
Op Vrydag 24 Mei is 'n verdagte in hegtenis geneem in verband met 'n voorval waar 'n vrou verlede Woensdagmiddag deur 'n man met 'n byl gedreig is.
Elise Oosthuizen, wat op die hoek van Searle- en Maitlandstraat woon, het die verdagte betrap waar hy helder oordag klaarblyklik besig was om by haar huis in te breek.
'n Struweling het ontstaan en hy het haar met 'n byl gedreig.
Volgens Oosthuizen is dit dieselfde byl wat vroeër by hulle gesteel is.
"Toe ek weer sien ruk hy 'n byl uit en sê hy gaan my kap, hy gaan my doodmaak," het Oosthuizen tydens 'n onderhoud aan die George Herald gesê.
Oosthuizen het ook haar opregte dankbaarheid teenoor die polisie uitgespreek. "Binne minute het die eerste polisiebeamptes by my huis gestop. Lede van Blanco-buurtwag was ook vinnig daar. Ek bedank almal vir die ondersteuning en spoedige optrede."
'n Huurder op die perseel het Oosthuizen hoor gil waarna hy haar te hulp gesnel het. Die verdagte het te voet gevlug.
Dit was reeds die vyfde inbraak by die Oosthuizens se woning binne die laaste vyf weke.
Heinrich Meyer (39) is Vrydagmiddag deur sers. Thando Kibido, 'n speurder verbonde aan die George-polisie, en sy span, by 'n huis in Robynsingel in Golden Valley, Blanco, in verband met die aanval op Oosthuizen, in hegtenis geneem.
Hy het Maandag in die George-landdroshof op aanklag van poging tot huisbraak en aanranding verskyn. Die saak is uitgestel tot Dinsdag 4 Junie. Hy bly in aanhouding.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'