Party is uiters geslaagd en ander nie soveel nie, maar Ricardo Kleinhans, die voorligtingsbeampte wat die projekte al vir nege jaar dryf, hou vol om sy droom vir voedselsekuriteit in die gemeenskap na te streef. Die projekte neem verskillende vorms aan - daar is huistuine, gemeenskapstuine en skooltuine, verduidelik Ricardo wat self ‘n agtergrond in boerdery het. In die Eden-distrik vestig die program tussen 50 en 60 huistuine per jaar waarvan 98% suksesvol bly voortbestaan. ‘n Hele aantal gemeenskapstuine word volhoubaar bedryf, maar skooltuine is nog dun gesaai.
Die departement verskaf befondsing om hierdie ondersteuning aan plaaslike gemeenskappe moontlik te maak. Saad, implemente en materiale vir die oprig van kweekhuise, watertenks endiesmeer word beskikbaar gestel. Ricardo het die George Herald na ‘n paar van die suksesvolle tuine geneem.
Van alle soorte
Een van die voorste tuine is die Rosemoor-gemeenskapstuin onder leiding van Eddie Harker, ‘n man wie se sweet al sedert 2006 hier val. Die tuin is agtermekaar en spog met groot akkers wat ‘n verskeidenheid groente lewer. Daar is ook ‘n paar vrugtebome.
‘n Moddergeboutjie wat ‘n paar jaar gelede gebou is uit die grond op die perseel, dien as stoorplek vir implemente. ‘n Klein kweekhuis is ook meer onlangs opgerig. Komposgate, ‘n erdwurmplaas en watertenk verseker dat verbouing organies en volhoubaar is. Oeste word uitgedeel aan onder andere die aangrensende Rosemoor-crèche en sopkombuise van George Kindersorg. Die vyf persone wat die tuin bewerk, het ook altyd vars groente op die tafel en daar word groente verkoop wat ‘n klein inkomste verseker.
Tuine vir erf 325
Die Metodistekerk in Thembalethu bedryf vir twee jaar reeds ‘n suksesvolle gemeenskapstuin en nog tuine is in die pyplyn vir Thembalethu en Blanco. Daar is ook aansoek gedoen vir subsidie vir 50 huistuine by erf 325 in Pacaltsdorp.
Opkomende boere
‘n Aantal ywerige opkomende boere in George baat ook by die departement se ondersteuning. Twee families van Pacaltsdorp maak gebruik van groot gedeeltes oop grond binne die munisipale gebied vir groenteverbouing.
Jan en Elsabe Aweries, ‘n egpaar wat al vir 34 jaar lank saam die grond bewerk, verkoop hulle oeste aan informele handelaars in die dorp, sit kos op die tafel vir hulleself en deel af en toe ook uit onder pensioenarisse in die buurt. Inheemse hoendertjies skrop ook op die werf as deel van ‘n teelnavorsingsprojek van die departement se program.
Nie te ver van die Aweriese af nie was Isak Goliath besig om ‘n ruim patat-oes van ‘n land af te haal tydens ons besoek. Hy en die eienaar van die grond, Henry Tyaliti, het ‘n ooreenkoms waarvolgens hulle die oeste deel. Hulle verkoop dit aan die plaaslike gemeenskap.
Sy boerdery hier is slegs ‘n jaar aan die gang, maar Isak het groot drome vir die toekoms. "Ek wil saam met my broers en ons kinders ‘n koöperasie stig wat die kinders kan bestuur. Hulle het die nodige kwali-fikasies. Ek wil ook met vleisbees boer en beoog om binnekort ‘n vleisbeeskursus te doen."
Uitdagings
Die suksesverhale kom nie maklik nie. Daar is groot uitdagings. "Waar ons groot sukses met huistuine behaal omdat die huis-eienaar verantwoordelikheid neem vir sy eie tuin, sal ons graag meer gemeenskapsbetrokkenheid wil sien by gemeenskapstuine. Ons probeer om gemeenskapstuine so na as moontlik te vestig aan die mense wat daaruit voordeel trek, want hulle moet self inspring en werk. Ek vind dat mense baie motivering nodig het," sê Ricardo.
"‘n Mens moet in gedagte hou dat ons op werklose mense en die armste van die armes fokus en ons verwag van die persoon om iets in die grond te sit en drie maande lank te wag voor hy iets kan uitkry."
Hupstoot vir voedselsekuriteit
Voedselsekuriteit word gedefinieer as toegang tot genoegsame en bekostigbare, voedsame kos. Deur die vestiging van tuine in die gemeenskap te ondersteun, gee die voorligtingsprogram ‘n hupstoot aan voedselsekuriteit, inkomstegenerasie en werkverskaffing. Die wêreld se armes, wat die ergste geraak word deur voedselprysstygings, raak op hierdie manier minder afhanklik van heersende pryse.

Onder die wakende oog van die kerkleiers van die Thembalethu Metodistekerk, Mary en Wiseman Aseni, word groente die afgelope twee jaar al uit die gemeenskapstuin op die kerkgronde geoes. By hulle is klein Aqama Aseni.

Isak Goliath (links) en sy kleinseun Cameron Graeme (regs) haal ‘n groot patat-oes van die land af saam met Daniël Tyaliti en Martin Davidson.
.jpg)
Die groen vingers wat bydra tot die sukses van die Rosemoor-gemeenskapstuin is Alfred Mathembo (links voor), Mellville Williams (regs voor), Eddie Harker (links agter) en Jovandré Sysaar.
ARTIKEL EN FOTO'S: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS