GEORGE NUUS - Inwoners van Rosedale-plakkerskamp het gisteraand skuins na 20:00 gepoog om onbewoonde huise in ‘n behuisingsontwikkeling in die woongebied te beset.
Volgens videos wat op sosiale media die ronde doen is inwoners ontsteld dat hulle nog ‘n winter moet binnegaan sonder behoorlike beskerming teen die elemente.
Die polisie en verteenwoordigers van George-munisipaliteit was op die toneel. George-raadslid Bazil Petrus, portefeuljeraadslid vir menslike nedersettings, het glo die oproerige skare toegespreek. Virgill Gericke van die PBI is op sosiale media geloof vir sy bystand aan inwoners. “Ek het verskeie oproepe gehad van gemeenskapsleiers wat gevra het dat ons kom help op die toneel,” het Gericke gesê. “Ek is dankbaar ek kon help om gemoedere te kalmeer.”
Volgens 'n inwoner is daar onderneem om met die ongelukkige inwoners te vergader.
Munisipale woordvoerder Chantèl Edwards het vanoggend, Donderdag 2 Junie, bevestig dat ‘n vergadering vandag plaasvind met ‘n delegasie van die Rosedale-inwoners wat betrokke was by gisteraand se besettingsaksie. “Kommentaar sal na die vergadering verskaf word,” het sy gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'