Gallery Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - "Daar het nie mooi dinge gebeur nie. Dit was 'n nes. Ouens het heeldag tik en Mandrax gerook en snags… Mans en vrouens. Nee, dit was erg." Só praat Henry Meyer, die buurman van 'n huis in Aaronsingel, New Dawn Park, na afloop van die naweek se gebeure waar 'n jong man sy lewe verloor het.
Dié huis, 'n Hop-huis wat aan George-munisipaliteit behoort, is Maandagmiddag binne enkele ure deur 'n handjie vol inwoners tot op die grond met 5-pond-hamers afgebreek. "Dit was nodig. Dit voel goed," het Meyer gesê.
Meyer het vroegoggend verlede Saterdag, omstreeks 06:00, vir sy vrou iets by 'n huiskafee gaan koop toe hy die 30-jarige Gershwin Mintoor se lyk voor die voordeur van die berugte huis sien lê.
Fotogalery: Hop-huis van hartseer gesloop
Die Meyers leef al jare saam met die onuithoudbare situasie, enkele meters van hul woonhuis. "Ons het almal geweet dis net 'n kwessie van tyd," het hy gesê. Hierdie woorde word beaam deur lede van die wykskomitee, Daniël Bezuidenhoudt en BJ Stoffels, asook 'n drukgroep, Landless People Civic Organisation (LPCO).
Kyk 'n video hieronder:
Bezuidenhoudt het glo die kwessie sowat vyf maande gelede met die hulp van 'n munisipale toepassing aangemeld, en 'n verslag by die wyksraadslid ingedien.
"En nou dít. Nou is iemand dood. Ons het geweet dit gaan kom," het hy gesê.
Charly Daman, woordvoerder van die LPCO, het gesê hulle beskou dit as ernstige nalatigheid van die plaaslike owerheid en wil die saak by die Menseregtekommissie aanmeld. Daman het gesê die huis het die afgelope vyf jaar verwaarloos en is deur bendes benut. "Verskeie versoeke is in die verlede aan die amptenare van die munisipaliteit gerig, maar alles was tevergeefs."
Die "huis van hartseer" lê in puin nadat die gemeenskap besluit het om 'n einde te maak aan al die wandade wat daar plaasgevind het.
Ongeskik vir bewoning
Die munisipale direkteur van menslike nedersettings, Charles Lubbe, het bevestig dat die huis aan die munisipaliteit behoort.
"Die huis behoort aan die munisipaliteit. Dit was reeds twee keer onlangs deur die behuisingsdepartement toegekap sodat mense dit nie onwettig kan gebruik nie, maar is net weer oopgemaak," het Lubbe gesê.
"Daar is in Desember 2020 'n tegniese ondersoek na die strukturele integriteit van die gebou gedoen en is ongeskik vir bewoning verklaar. 'n Item sal binnekort voor die munisipale raad dien om die toekoms van die eiendom te bepaal."
Hy het gesê die gemeenskap word aangemoedig om misdaad by die polisie aan te meld aangesien die munisipaliteit nie 'n mandaat het om kriminele aktiwiteit aan te spreek nie. "Die munisipaliteit dra medelye oor aan die geliefdes van die persoon wat vermoor is," het Lubbe gesê.
Van links is Charly Daman (LPCO), pastoor Treurnicht (gemeenskapsaktivis), Daniël Bezuidenhoudt en BJ Stoffels (wykskomiteelede) en die buurman, Henry Meyer. Foto's: Michelle Pienaar
Verwante artikel: Body found in abandoned house
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'