GEORGE NUUS - Families Suid-Afrika (Famsa) Outeniqua het dié maand weggespring met 'n bewusmakingsveldtog oor die belangrikheid van trane en huil, asook hoe om na jou geestesgesondheid om te sien.
Hierdie is die tweede artikel in 'n reeks wat oor die volgende paar weke in George Herald en aanlyn by www.georgeherald.com gaan verskyn en volg op verlede se artikel, Om te huil of nie te huil.
Die voordele van huil
Om te huil stel oksitosien en ’n endogene opioïed vry, andersins bekend as endorfiene. Hierdie goedvoel-stowwe kan help om beide fisiese en emosionele pyn te verlig. Sodra die endorfiene vrygestel is, kan jou liggaam in 'n kalmer stemming ingaan. Oksitosien kan jou 'n gevoel van kalmte of welstand gee.
Hoekom huil mense?
Navorsers het gevind dat huil beide jou liggaam en jou verstand kan bevoordeel en hierdie voordele begin by geboorte met 'n baba se eerste huil. Dit is ‘n teken van lewe!
Jou liggaam produseer trane wat jou oë teen irritasie beskerm en jou oë klam hou. Wanneer jy huil weens emosie, bevat jou trane ’n bykomende komponent, die streshormoon, kortisol.
Wanneer jy vir 'n lang tyd huil, spoel jy stressors uit. Die regulering van kortisol kan jou help om ontslae te raak van hardnekkige vet rondom jou middel en kan jou ook help om minder gespanne te voel. Interessant genoeg is mense die enigste wese wat trane huil.
Drie tipes trane
• Basaal: Die traankanale skei voortdurend basale trane af, wat 'n proteïenryke antibakteriese vloeistof is wat help om die oë klam te hou elke keer as 'n persoon knip.
• Refleks: Dit is trane wat veroorsaak word deur irritasies soos wind, rook of uie. Hulle word vrygestel om hierdie irritasies uit te spoel en die oog te beskerm.
• Emosioneel: Mense stort trane in reaksie op 'n reeks emosies. Hierdie trane bevat 'n hoër vlak van die streshormone as ander soorte trane.
Wanneer mense oor huil praat, verwys hulle gewoonlik na emosionele trane.
Wanneer gevoelens so erg raak dat jy nie weet hoe om dit te bestuur of te hanteer nie, kan huil een manier wees om dit uit te druk en verligting te kry.
Dit is geen geheim dat emosionele pyn diep seer kan veroorsaak, dus kan oorweldigende gevoelens van hartseer, skuld of bekommernis beslis trane uitlok.
Maar enige emosies wat oorweldigend of moeilik voel om te beheer, kan ook trane veroorsaak, selfs al voel dit nie besonder pynlik nie.
Wetenskaplikes het ook bewyse gevind dat emosionele trane chemies verskil van dié wat mense stort terwyl hulle uie kap, wat kan help om te verduidelik hoekom huil so 'n sterk emosionele sein na ander stuur.
Benewens die ensieme, lipiede, metaboliete en elektroliete waaruit enige trane bestaan, bevat emosionele trane meer proteïen. Een hipotese is dat hierdie hoër proteïeninhoud emosionele trane meer klewerig maak, sodat hulle sterker aan die vel vasklou en stadiger langs die gesig afloop, wat hulle meer sigbaar maak.
Trane wys ook vir ander dat ons kwesbaar is en kwesbaarheid is van kritieke belang vir menslike verhoudings. Om emosioneel te kan huil en daarop te kan reageer, is 'n baie belangrike deel van menswees.”
Volgende week kyk ons verder na die voordele van trane en hoe om ander mense se trane te hanteer.
Vorige artikel: Om te huil of nie te huil
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'