GEORGE NUUS - Outeniqua Dames Aktueel se maandelikse vergadering vind op Dinsdag 29 Mei om 19:00 by Emmaüs plaas. Die tema is 'Hoop lei tot kreatiwiteit'.
Gerda Nel kom vertel hoe ellende gelei het tot haar pragtige lintskilderye. Sannie van Zyl se verhaal gee moed en lei tot kreatiwiteit in mense om haar.
Besoekers is welkom teen R30. Onthou die hekke sluit om 19:00.
Kontak die volgende persone vir meer inligting: Magdaleen Smook 044 873 6568 / 074 977 1986 of Louie Meyer 044 874 6523 / 084 525 2130.
Die tema van Dames Aktueel se laaste vergadering was 'Hoop: Redding in teenspoed'. Kaptein Natasja Janse van Vuuren het die vroue meer vertel oor veiligheid in George.
Sy het gesê ons is bevoorreg, want ons plaaslike polisie is paraat, die buurtwagte funksioneer baie goed en is gedurig in kontak met die polisie. Dit veroorsaak ‘n afname in huisbrake. Lede van die publiek se oplettenheid en vinnige optrede het ook al gelei tot arrestasies.
Probleemareas bly maar ‘n tekort aan mannekrag in ons polisiediens, internetbedrog, huisbrake en verkragtings as gevolg van dwelms en drank.
Kapt. Janse van Vuuren se leuse is Psalm 143:8, 'My hoop is op U gevestig'.
Bradley Zeelie en Jané Odendaal wat beide al in die buiteland gedans het, het die vroue getrakteer op kontemporêre danse.
Louis Hough, ‘n afgetrede predikant en traumaberader, het die gaste moed gegee met die 'Traumatic Insident Reduction'-metode wat hy volg. In plaas van ‘n reeks sessies, benodig hy slegs een of twee met 'n persoon wat berading kry vir ‘n herstelproses.
Na ‘n traumatiese ervaring is die volgende simptome waarneembaar:
- Verwydering: Die persoon wil nie daaraan herinner word nie.
- Indringing: Die persoon kry nagmerries
- Paranoia: Die slagoffer is uiters bang dit gebeur weer.
- Hipersensitief: Die persoon skrik vir alles.
Volgens Louis moet jy aanvaar dit het gebeur en dit lei tot ‘n sterker jy. Maar sou die simptome permanent raak, is berading vir genesing nodig. Daar is altyd hoop!
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'