GEORGE NUUS - Daar is Saterdagaand 18 November groot makietie by die George-burgersentrum gehou tydens Hoërskool George se 70-jarige feesviering.
Ouers, oudleerders, raadslede, WKOD-verteenwoordigers en die burgemeester en sy vrou het opgedaag om die 70ste bestaansjaar saam met die skool te vier. Rodney Deyce, 'n onderwyser en koördineerder van Hoërskool George, sê die atmosfeer tydens die geleentheid was vrolik. "Dit was soos een groot familiereünie, almal het almal geken."
Joe Stoffels, oudleerder en oudonderwyser van Hoërskool George was die gasspreker en het opvoeders aangemoedig om aan te hou met die goeie werk van die volgende 70 jaar. Hy het na vorige hoofde en dit wat hulle vir die skool gedoen het verwys.
Hy het ook 'n beroep op ouers gedoen om die skool te ondersteun. Ikey Gamba, 'n orkes van Kaapstad, het gesorg vir goeie vermaak. Minstens 220 mense het ritmies op die maat van die musiek die dansvloer gevul.
Hoërskool George het in 1947 ontstaan. Onderrig het plaasgevind by die St. Pauls Anglikaanse kerk in Marklaan. 'n Gordyn het die twee klaskamers met 'n totaal van 46 leerders van mekaar geskei. Waxy Daniels was die eerste skoolhoof.
Vandag is daar minstens 1 700 leerders by die skool geregistreer. Morton van Rooyen, skoolhoof van Hoërskool George, is trots op die geweldige groei.
"Ten spyte van uitdagings oor die jare heen het Hoërskool George vanaf 1947 tot nou gegroei. Dis hardwerkende opvoeders met goeie waardes en goeie beginsels wat 70 jaar van toegewyde opvoeding moontlik gemaak het." Van Rooyen bedank die ondersteuners, oudleerders en die publiek wat die feesviering bygewoon het. Die 70-jarige fees sal Sondag 26 November met 'n dankseggingsdiens om 15:00 in Hoërskool George se skoolsaal afsluit. Almal is welkom om die afsluiting by te woon.
Kitto Marks en Vivienne Langeveld op die dansvloer.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'