GEORGE NUUS - Hulp met toerusting en klere vir sokkerspanne, geld vir Kersfeesliggies om besoekers te lok, hulp vir 'n koor om in Kaapstad te gaan deelneem en hulp vir skole en kerke. Dit is maar sommige van die projekte waaraan wyksraadslede die R50 000 bestee wat elke jaar aan hulle toegedeel word.
Vrae het die afgelope tyd ontstaan oor hoe die geld aangewend word en of daar behoorlike kontrole is.
Daar is in sekere kringe kommer dat die geld misbruik kan word in die aanloop tot aanstaande jaar se munisipale verkiesing.
George-munisipale bestuurder, Trevor Botha, het in antwoord op vrae gesê wyksgebaseerde projekte is geld wat jaarliks via die kantoor van die burgemeester begroot word. Dit is grotendeels daarop gemik om aandag te gee aan behoeftes ‘op die grond’ in gemeenskappe.
Voorkeur word gegee aan sekere projekte, maar word op meriete geëvalueer indien daar 'n spesifieke gemeenskapsbehoefte is.
Van die projekte is:
- Veiligheid, byvoorbeeld glimbaadjies en toerusting of finansiering aan buurtwagte;
- Sport en ontspanning, byvoorbeeld toerusting en ondersteuning aan klubs en skole;
- Jeugontwikkeling, byvoorbeeld hulp aan die jeug met sekere projekte wat tipies finansiering en/of opleiding sal behels;
- Vroue en gestremdes. Dit kan bepaalde projekte wees soos 'n naaldwerkprojek of rekenaaropleiding met die oog om vroue en gestremdes te bemagtig en werkskepping te bevorder en
- Ontspanningsgeriewe. Hulp met die bou, instandhouding of opgradering van geriewe by parke.
Volgens Botha word die geld verbeur indien dit nie betyds bestee word nie. Raadslede kan vra dat dit oorrol na die volgende finansiële jaar indien daar genoegsame motivering daarvoor is, maar dit gebeur selde en moet dan deur die begrotingskomitee goedgekeur word.
Behoeftes word in die wykskomitees van elke wyk geïdentifiseer en genotuleer. Die notules is die basis waarop die relevante munisipale administrasie beampte die projekte bestuur. "Tipies sal dit deur die gewone voorsieningskanaalbestuur-prosedures gaan of 'n ooreenkoms, wat deur die munisipaliteit se regsdepartement opgetrek is, word aangegaan (laasgenoemde is gewoonlik waar 'n belastingbetalersvereniging aktief op die wykskomitee dien, die nodige hulpbronne tot hulle beskikking het en reeds geskikte projekte geïdentifiseer het).
Volgens Botha word daar rekord gehou van alle verwante dokumentasie en strokies per wyk en per projek.
In uitsonderlike gevalle gebeur dit dat die raadslid 'n spesifieke tydverwante behoefte identifiseer wat nie betyds deur die wykskomitee gehanteer kan word nie. Die raadslid moet dan die uitvoerende burgemeester nader en die behoefte motiveer. Slegs indien dit deur die burgemeester in skrif goedgekeur is, sal so 'n versoek toegestaan word.
Wat sê raadslede?
Van die wyksraadslede wat met die George Herald gepraat het, het gewys op die belangrikheid hoe dit aangewend word.
Gerrit Pretorius, raadslid vir wyk 22, het gesê dit is belastingbetalersgeld. "Dit moet verantwoordelik hanteer word."
Hy doen in sy wyk 'n behoeftebepaling in oorleg met die wykskomitee. In sy wyk is daar agt skole en ook kerke. 'n Deel van die geld word vir eers teruggehou sodat dit aangewend kan word vir onvoorsiene omstandighede.
Volgens hom is daar veronderstel om voldoende kontrolemaatreëls in plek te wees.
Gerrit Pretorius, raadslid vir wyk 22. Foto: Eugene Gunning
Langa Langa, raadslid vir wyk 13, het gesê sy fokus is op die jeug en bejaardes. Hy wil die jeug van die strate af kry. Die geld help beslis mense, maar dit mag nie misbruik word vir politieke doeleindes en voordele nie.
Langa Langa, raadslid vir wyk 13. Foto: Michelle Pienaar
Marlene Barnardt, raadslid vir wyk vier, het gesê sy vra die wykskomitee om eers 'n "wenslys" op te stel. Na elkeen word op meriete gekyk. Dan word 'n prioriteitslys opgestel en geld word dienooreenkomstig toegeken. Daar word gepoog om die geld eweredig te versprei. Geld in die wyk is al onder meer gebruik vir vullisdromme, 'n mikrogolf vir twee crèches, 'n stoof vir Seven Passes Initiative, verf van randstene in Village en die herstel van braaiplekke by Leentjiesklip.
Sy sien dit as iets positiefs om 'n wyk te help en die betrokkenheid van wykskomiteelede te bevorder.
*Questions are being asked how money is used that is awarded every year to ward councilors. Every ward councilor receives R50 000 every year. The money must be used to the advantage of residents in the specific ward.
'n Gedeelte van wyk vier se wyksgeld vir 2019 is gebruik om rugbytruie te koop vir die Superstats RFC van Touwsranten. Die span speel in die Landelike Liga. Dit is die eerste keer in vier jaar dat die span nuwe truie kry. Hier oorhandig Marlene Barnardt , wykraadslid die truie aan Cheslin James, (onderkaptein) Nathan Buys (kaptein) en Pieter Beukes (afrigter).
Trevor Botha, munisipale bestuurder.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'