GEORGE NUUS - As alles volgens plan verloop sal die pawiljoen by die Pacaltsdorp-stadion teen vroeg Oktober gereed wees. 'n Kontrakteur is op die oomblik besig om die dak te herstel. Tydens George Herald se besoek Maandag 28 Augustus aan die stadion was kontrakteurs druk besig met herstelwerk.
Die probleme by die stadion kom al 'n lang pad en het tot groot frustrasie vir rugby en veral Evergreens-ondersteuners gelei. Evergreens gebruik dit as 'n tuisveld en die klub het al geld verloor as gevolg van die situasie.
In 'n stadium is die pawiljoen gesluit as gevolg van veiligheidsoorwegings.
Brendon Adams, burgemeesterskomiteelid vir sport van die George-stadsraad en Marchell Kleynhans, stadsraadslid vir wyk 27 het ook Maandag 'n draai by die stadion gemaak. Die stadion is in wyk 27.
Adams het gesê as die weer saamspeel behoort die pawiljoen in die tweede week van Oktober gereed te wees.
Die opgradering is aan die dak en die koste beloop sowat R1,6 miljoen. Oor vrae met die sloerdery het hy gesê daar was bepaalde prosesse wat gevolg moes word soos byvoorbeeld tenderprosesse wat eers afgehandel moes word.
Kontrakteurs Maandag besig met herstelwerk.
So byvoorbeeld moes 'n ingenieursverslag eers opgestel word. Die voorgeskrewe tenderprosesse moes ook gevolg word.
"Dit moes regverdig wees en ons moes ook wag vir 'n ingenieursverslag. Die dak was nie veilig nie. Dis 'n jare lange storie en daar was klagtes oor die ou strukture dat dit nie voldoende is."
Volgens Adams gebruik Evergreens en die Young Roses die stadion. Dit beteken baie vir hul ondersteuners en die gemeenskap dat daar nuwe strukture gevestig word. Die projek verskaf werk aan jongmense in Pacaltsdorp.
Kleynhans het gesê die gemeenskap is baie opgewonde en dankbaar. Wedstryde by die stadion trek meer toeskouers as wedstryde van die SWD Arende. Volgens hom speel sport 'n belangrike rol in Pacaltsdorp.
Benewens die herstelwerk aan die pawiljoen sal 'n hoëmaslig aangebring word sodat geleenthede in die aand gehou kan word.
Marchell Kleynhans, (links) stadsraadslid vir wyk 27 en Brendon Adams, burgemeesterskomiteelid vir sport van die George-stadsraad.
Kobie Carelse, voorsitter van Evergreens, het gesê dis 'n goeie teken dat herstelwerk begin het en hy het dit verwelkom. Hy het egter bygevoeg: "Dis jammer dat ons so lank moes gewag het. Ek het 'n brief aan die munisipaliteit geskryf om te hoor van die vordering, maar nog niks gehoor nie."
Herstelwerk aan die Pacaltsdorp-sportstadion. Foto's: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’