GEORGE NUUS - Heroldsbaai Stranddiens bedien reeds twee dekades die kinders en vakansiegangers wat Desember daarheen gaan.
Douglas Stanley, die jeugwerker betrokke by Stranddiens sê by NGK Bergsig-gemeente glo hulle dat God lewens verander en dat Hy hulle stuur om sy liefde te leef.
"Daarom gebruik ons die Desembervakansie as 'n uitreik en getuienisgeleentheid deur jongmense van hoërskoolouderdom wat 'n deel van hul vakansie opoffer om die kinders te bedien."
Stanley sê weens die Covid-19-pandemie sal hierdie jaar se stranddiens 'n virtuele uitreik wees. Hy verduidelik dit behels onder meer 'n 20-minute kinderprogram vol dansies, pretaktiwiteite en natuurlik die immergewilde poppekas wat op Facebook uitgesaai word. Hulle doen ook daagliks Bybelstudie vir die spanlede. Hy sê 'n groot gedeelte is hul diensbaarheid in die gemeenskap wat insluit om strande skoon te maak. Dit sal in klein groepe kontakvry gedoen word.
Die kinderprogram is gemik op jonger kinders, veral voorskoolse ouderdom. Stanley sê hulle het reeds kontak gemaak met kleuterskole wat gedurende die Kersseisoen oop bly en hulle is welkom om in te skakel en te deel in die pret en vreugde.
"Die videomateriaal sal aanlyn beskikbaar bly vir families en groepe wat dit in hul eie tyd wil kyk."
Die program het reeds Dinsdag 15 Desember begin en hou aan tot Saterdag 19 Desember.
Mense kan elke dag om 11:00 inskakel op Heroldsbaai Stranddiens se Facebook-blad vir 'n regstreekse uitsending van die boodskap oor die program van die dag. Video-uitsendings sal elke dag vanaf 17:00 op Facebook beskikbaar wees.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'