GEORGE NUUS - Die inperkingstyd het baie klein ondernemings laat skade ly, maar dit het hulle nie gestop om self uit te reik en ander te help, of om hul besighede te laat registreer vir Covid-19-dienste nie.
Enrico Apollis van Oom Bul's Koffiewinkel in Pacaltsdorp is so 'n besigheid. Apollis vertel vandat die inperking begin het, het hy sy gewig ingegooi en sy dienste beskikbaar gestel om vir haweloses te help kook.
"Vir 'n week tydens die Paasseisoen het ons kos gemaak en aan hulle verskaf. Dit is toe gestop en daar is besluit om verder deel te wees van die Covid-19 maatskaplike ontwikkelingsprogram om aan minderbevoorregte gemeenskappe verligting te bring."
Hy sê sy koffiewinkel was betrokke by 'n sopkombuis, en dit was 'n voorreg om 'n diens te lewer, maar nou moet hy ook aandag skenk aan sy winkel.
As kleinsakeman wil Apollis ook ander kleinsakemanne en entrepreneurs help om op die been te kom. Dis hoekom hy Clint Pillay van Pacaltsdorp 'n kans bied om sy speserye uit die koffiewinkel te verkoop. "Ek het sy inisiatief raakgesien en besef een hand was die ander."
Pillay sê hy het sy sakevernuf by sy pa geleer wat self 'n sakeman is.
"My pa het my broer en myself vroeg geleer wat dit vat om jou besigheid te laat werk. Dit het definitief gehelp om te sien hoe hy dinge doen."
Pillay sê hy moes egter op die harde manier leer wat werk en wat nie werk nie. Nadat verskeie projekte platgeval het, het hy besef dat dit vir hom werk om te bly by wat hy ken en verstaan. Dit is hoe hy besluit het om speserye te verkoop en hoe Crisp Supply gebore is. Sy ma het ook 'n groot invloed gehad met die besluit omdat sy so 'n goeie kok is.
"Dit het ook gehelp dat ek 'n Indiese invloed in my familie het," sê hy. Hy koop van sy produkte by plaaslike vervaardigers aan en van dit word ingevoer.
Kobie Trantraal van die Pacaltsdorp Community Business Association (PCBA) sê as sakekamer help hulle graag mense wat self 'n inkomste wil genereer.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'