TUINROETE NUUS - 'n Vermeende swendelaar, Dale Ronald Harmse, wat Dinsdagoggend uit die polisieselle in Mosselbaai ontsnap het, is net 'n paar uur daarna deur polisiebeamptes in George in hegtenis geneem.
Harmse is in Desember verlede jaar in hegtenis geneem na hy homself as 'n advokaat voorgedoen het, en 'n plaaslike sakeman uit R500 000 geswendel het.
Hy verskyn op aanklagte van bedrog, diefstal en geldwassery. Harmse het 40 vorige veroordelings wat ook diefstal en bedrog insluit. Hy is in April borgtog geweier.
Die ondersoek-beampte, lt.kol. Max Mxabaniso, het tydens Harmse se borgtogaansoek gesê dat Harmse vir 10 jaar al in Erasmia gesoek word op aanklagte van bedrog. Hy het reeds daar in die hof verskyn waar hy op borgtog vrygelaat is, maar het daarna nie hofverskynings bygewoon nie.
Hy verskyn ook in die landdroshof in Mosselbaai op aanklagte van bedrog.
Volgens Harmse se regsverteenwoordiger, adv. Riaan Pienaar, wat nie bewus was van sy kliënt se ontsnapping nie, het Harmse Maandag in Mosselbaai vir 'n borgtogaansoek verskyn.
Die saak is glo uitgestel en hy sou Dinsdagoggend na Oudtshoorn oorgeplaas word sodat hy op 29 November met sy verhoor kon begin.
Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het egter na Harmse se herarrestasie gesê dat Harmse homself voorgedoen het as 'n man wat op aanklag van oproerigheid in hegtenis geneem is, en vrygelaat sou word.
Harmse het daarna doodluiters uit polisieselle gestap en 'n saamrygeleentheid tot in George gekry waar hy toe deur beamptes by 'n bande-onderneming in hegtenis geneem is. Volgens Pojie was Harmse glo na Oudtshoorn onderweg. Harmse is daarna teruggeneem na Mosselbaai waar hy nou op aanklag van ontsnapping uit aanhouding gaan verskyn.
"n Departementele ondersoek sal parallel met die kriminele klag ondersoek word," het Pojie in die verklaring gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'