GEORGE NUUS - Petro Müller was Sondagoggend baie verras toe George-burgemeester, Leon van Wyk, haar en ander passasiers op die aanloopbaan van die George-lughawe verwelkom het.
Dit was die eerste keer in maande dat sy weer haar voete in die Suid-Kaap kon sit. Müller het kort na die inperkingstyd na haar kinders in Gauteng vertrek en eers Sondag teruggekeer.
'n Opgewonde Van Wyk was op die lughawe net enkele ure nadat pres. Cyril Ramaphosa aangekondig het dat Suid-Afrika se inperkingsmaatreëls na vlak 2 beweeg.
Dit was Sondag ook die eerste keer in maande dat 'n Boeing 737-800 van FlySafair gedurende 'n naweek op die lughawe geland het. Aan boord was 171 passasiers en in die vertreksaal het sowat 180 passasiers en vlugpersoneel gereed gestaan om die terugvlug na Gauteng te haal.
Leon van Wyk, (links) George-burgemeester, Sondag op die aanloopbaan van die George-lughawe kort nadat 'n vlug van Gauteng geland het. By hom staan Johan Stander, burgemeesterskomiteelid van die George-stadsraad.
Van Wyk was verheug dat so 'n groot vliegtuig weer die naweek in George geland het. Hy het in 'n onderhoud met George Herald gewys op die belangrikheid daarvan vir die ekonomie van die streek en dat die lughawe weer in bedryf is. "Sulke vlugte help die ekonomie." Van Wyk het dit ook verwelkom dat die inperkingsmaatreëls verslap is.
"Die feit dat soveel passasiers hier gearriveer het en ander weer vertrek wys dat dinge weer begin gebeur," het hy gesê.
Hy het benadruk dat die lughawe so gou moontlik na sy volle kapasiteit moet terugkeer. "Dis tot voordeel van die hele streek."
Passasiers arriveer Sondag by die lughawe op 'n vlug van Gauteng.
Volgens hom is daar groot kommer oor die toerismebedryf en verwante instansies.
"Dis belangrik dat hulle weer op dreef kom. Vlugte na die streek help toerisme en die sakesektor. Die stadsraad kyk na maniere hoe toerisme in die streek bevorder kan word en om mense na die streek te lok.
"As passasiers deur die lughawe beweeg beteken dit die ekonomie kom weer aan die gang."
Fotogalery: Boeing 737-800 van FlySafair land in George
Senzeni Ndebele, senior bestuurder gemoeid met korporatiewe sake by die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa), het gesê hulle glo Sondag se vlugte sal die eerste van baie wees. Daar is duidelike aanduidings dat die vraag besig is om te styg.
"Toerisme is baie belangrik vir die streek en George-lughawe sal voortgaan om die toerismebedryf te steun."
Leon van Wyk, (links) George-burgemeester, en Johan Stander, burgemeesterskomiteelid van die George-stadsraad Sondag by die George-lughawe. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'