GEORGE NUUS - Sportliefhebbers kan uitsien na 'n verskeidenheid sportfeeste- en geleenthede wat ook 'n groot hupstoot vir die plaaslike ekonomie gaan wees.
SA vlak 3-swemkampioenskappe
Dit skop reeds vandag, 17 Maart, af met die SA vlak 3-kampioenskappe wat by die Conville-swembad plaasvind en hou tot Sondag aan.
Eden Aquatics, wat na swem in die streek omsien, is by die reëlings betrokke. Sowat 390 swemmers van oor die Wes-Kaap gaan in 14 verskillende afstande swem. Die ouderdomme van deelnemers wissel van 11 tot 24 jaar.
Van 29 Maart tot 2 April vind die SA streek junior en senior kampioenskappe by dieselfde swembad plaas. Na verwagting sal bietjie meer as 200 swemmers deelneem.
Tarita en Raymond Pollicutte wat by die reëlings betrokke is, het gesê hulle dankbaar vir die George-munisipaliteit wat agteroor gebuig het sodat die geleenthede hier kan plaasvind.
Southern Cape Sports Tours
Van 25 tot 30 Maart vind die Southern Cape Sports Tours plaas. Nico Bezuiden-hout, organiseerder, het gesê dit vind plaas by Outeniquapark, Eden HTS, Hoërskool Outeniqua, York High en Hoërskool Knysna.
Tussen 1 700 en 1 800 deelnemers van o.14 tot o.19 van oor Suid-Afrika gaan deelneem aan sportsoorte soos rugby, tennis, netbal en hokkie.
Volgens hom sal meer as 3 000 mense (toeskouers en deelnemers) by die toernooi wees. "Dit is 'n baie gewilde geleentheid," het hy gesê. Dit is vanjaar die 13de keer dat dit aangebied word.
Kwagga junior rugby- en hokkieweek
Wedstryde in die Kwagga Junior Rugbyweek vind van 26 Maart op die velde van Hoërskool Outeniqua plaas.
Daar word ook op 28 Maart en 30 Maart gespeel. Piet Cloete, onderhoof: sport van die skool, het gesê die rugbyweek vir o.14- en o.15-rugbyspanne word sedert 1995 deur die skool aangebied.
As gevolg van Covid-19 kon die week nie plaasvind in 2020 en 2021 nie. Dit is vanjaar die 26ste rugbyfees.
Daar het 28 o.14-spanne en 16 o.15-n spanne ingeskryf vir hierdie rugbyfees.
In dieselfde tyd is daar ook 'n Kwagga Junior Hokkieweek vir o.14-seuns en -dogters.
Halfway Toyota Barefoot Champs Festival
Die Halfway Toyota Barefoot Champs Festival vind op 29 Maart, 30 Maart, 1 April en 2 April plaas. Volgens die organiseerders gaan altesame 20 rugbyspanne in die ouderdomsgroepe van o.11 en o.13 meeding.
Die spanne kom van oor Suid-Afrika.
Heyneke Meyer, 'n voormalige afrigter van die Springbokrugbyspan en Wynie Strydom, wat voorheen spanbestuurder van die Blou Bulle was, is daarby betrokke. Die wedstryde vind plaas op Outeniquapark.
George-munisipaliteit steun sport geleenthede
Raybin Figland, George se onderburge-meester en Dirk Wessels, burgemeesters-komiteelid vir finansies en strategiese dienste, het aan die George Herald gesê die munisipaliteit steun die geleenthede en is daarby betrokke.
Nie net bevorder dit sport nie, maar dit stimuleer ook die plaaslike ekonomie.
Volgens Figland help sulke geleenthede toerisme, die plaaslike ekonomie en skep ook werksgeleenthede.
Dit bewys dat die munisipaliteit uitreik na die publiek. Dit is 'n geleentheid om brûe te bou tussen die privaat en die openbare sektore.
Wessels het gesê dis nie net die kinders wat kom nie. In baie gevalle kom hul ouers ook saam. Daar is af dae en dan kry deelnemers geleentheid om die omgewing te verken. Dit is 'n geleentheid om in die volgende geslag "Springbokke" te belê.
Tarita en Raymond Pollicutte by die Conville-swembad. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'