GEORGE NUUS - 'n Kortstondige tekort aan vloeibare petroleumgas het verlede week in George en omgewing ontstaan te midde van 'n verhoogde vraag.
Slegs Easigas kon 'n dag voor die ander verskaffers van sy klein bergingsfasiliteit in Port Elizabeth voorraad kry.
Volgens Riaan Bosman, George-bestuurder van die grootmaatverskaffer Penguin Gas, kon 'n tenkerskip wat ingevoerde gas vervoer weens rowwe seetoestande nie verlede week by Saldanha vasmeer nie. In so 'n geval beweeg dit dan na Richardsbaai. Dit het 'n vertraging veroorsaak.
Voorraad is egter nou beskikbaar, maar 'n nuwe uitdaging vir verskaffers is 'n tekort aan silinders.
Die tekort het ontstaan weens 'n kombinasie van faktore. Volgens Bosman het die mark in die Tuinroete baie gegroei weens die invloei van nuwe inwoners.
"In die meeste nuwe huise wat gebou word, word gasstowe en gasgeisers geïnstalleer en daarmee saam gaan gewoonlik twee nuwe silinders. Eskom se beurtkrag en die elektrisiteitsprys speel ook 'n groot rol."
Tydens die Covid-19-pandemie was daar ook vertragings in invoere van silinders en pryse het meer as verdubbel.
"Voor die pandemie het dit tussen drie en vier maande geneem om die silinders hier te land. Nou neem dit ses tot agt maande. Daar is verder 'n tekort aan skeepshouers en hulle kos nou drie keer meer. Verskaffers is dus traag om silinders aan te skaf, want dit is 'n groot kapitale uitleg wat jy eers oor 'n lang tydperk terugmaak.
"Weens die groeiende mark moet daar egter nou opgevang word."
'n Verskaffer dok meer as R600 op vir 'n silinder van 9 kg, maar lewer dit aan die publiek vir R300 (BTW uitgesluit). Almal wat silinders invoer, las nou 'n heffing by die verbruiker se deposito vir 'n silinder. "Daar is ontevredenheid daaroor, maar dis iets waaraan die mark gewoond moet raak. Die verskaffer kan dit nie aanhou subsidieer nie," sê Bosman.
Suid-Afrika se grootmaatverskaffers koop hul gas aan van die enigste invoerder, Vital, nadat PetroSA en Chevron tydens die Covid-19-pandemie opgehou het om gas te verskaf. Gas word onder meer vanuit olieproduserende lande af ingevoer. Wanneer die voorraad in Suid-Afrika aanland, word dit in die bergingsfasiliteite van Sunrise Energies in Saldanha gehou vanwaar dit aan die onderskeie grootmaatverskaffers versprei word.
Volgens die grootmaatver-skaffer Easigas se bestuurder, Willie Nagel, het hulle gas en silinders in voorraad om voorsiening te maak vir die stygende vraag. "Almal is in rep en roer en wil ekstra gas en nuwe silinders hê."
Jana Malan, bestuurder by Gasco, sê die vraag is baie groot in vergelyking met vorige winters. "Dis baie meer as verwag en ek glo dis die kragprys en beurtkrag. Baie mense vervang hul elektriese kookplate met gas."
George Gas se bestuurder, Gawie Basson, waarsku die publiek besef nie altyd dat 'n silinder volgens wet as veiligheidsmaatreël volgemaak moet word deur die verskaffer aan wie die silinder behoort nie.
"As dit 'n Afrox-silinder is, moet Afrox dit hervul of as dit 'n Easigas-silinder is, moet Easigas dit doen. Daar is gaswinkels wat nie daarby hou nie, maar omdat dit nou van toepassing gemaak word, was daar 'n geskarrel met silinders en hervulling. Klante moet weet dat as hulle 'n silinder terugkry, dit geseël moet wees. Dit beteken dat die silinder deur 'n gelisensieerde verskaffer hervul en ook getoets is."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'