NASIONALE NUUS - Die nood onder middelklas gesinne in die land, asook in die Tuinroete en Karoo, het drasties toegeneem sedert die begin van grendeltyd in Maart.
So sê Solidariteit Helpende Hand (SHH), wat sopas ’n derde reuseskenking van die Douw Steyn-familietrust ontvang het om honger te bekamp. ’n Gedeelte van die jongste R5 miljoen-kosskenking gaan aangewend word om die nood onder die middelklas te hanteer.
Die skenking is in Hartenbos ontvang waar die stoorplek is. Die Wes-Kaapse streekorganiseerder van SHH, Alisha de Lange, sê van Hartenbos word dit onder meer versprei na Oudtshoorn, Beaufort Wes, Plettenbergbaai, Knysna, George, Oudtshoorn, Mosselbaai, Hartenbos, Albertinia, Heidelberg, Riversdal, Swellendam en Stilbaai.
“Ons het reeds ongeveer 850 kospakkies in hierdie areas uitgedeel.”
Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van SHH, sê gesinne wat sedert die inperking hul werke verloor het word bygestaan.
“Sedert die inperking ingestel is, kon Helpende Hand deur die hoeveelheid aansoeke om hulp sien hoe drasties die nood in die middelklas toegeneem het. Die kosvoorraad wat ons van die Douw Steyn-familietrust, tesame met Steyn City Properties en Telesure Investment Holdings (TIH) ontvang het, gaan in al nege ons streke met die hulp van ons takke en vrywilligers aan gesinne versprei word wat deur ons maatskaplike werkers geassesseer is,” sê Noëth.
Die aflaaiproses het in ‘n vrolike, dankbare luim geskied.
“Korttermynhulp word gebied aan gesinne wie se inkomstes deur die ekonomiese gevolge van die Covid-19-pandemie beïnvloed word. Helpende Hand probeer op hierdie wyse om vir gesinne ’n bruggie te bou en só vir hulle die geleentheid te bied om planne te maak terwyl ons hulle met ’n kospakkie ondersteun as aanvulling tot die basiese kruideniersware wat hulle benodig.”
Noëth sê dis die derde groot skenking van kosvoorraad wat Helpende Hand van die Douw Steyn-trust ontvang. Die eerste skenking van R2 miljoen se kos is in April ontvang. Hiermee kon 2 000 kospakkies opgemaak word wat ’n gesin van vier vir ’n maand lank kon voed. ’n Verdere R5 miljoen is in Mei aan Helpende Hand geskenk.
Met die instel van grendeltyd het die Solidariteit-beweging sy Krisisfonds van stapel gestuur om onder meer kinders en bejaardes met noodvoeding te help. Helpende Hand en die Krisisfonds kon sedertdien landwyd nagenoeg 19 171 gesinne en 1 536 instansies, soos ouetehuise en kinderhuise, van kos voorsien. Hulle is afhanklik van skenkings van die publiek en die private sektor, en ontvang geen hulp van die regering nie.
Ná die jongste skenking het dié fonds nou al sowat R23 864 433 ingesamel. In die Wes-Kaap help SHH tans ongeveer 1780 gesinne.
'n Deel van die R5 miljoen-kosskenking.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'