Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO'S - Goeie buurmanskap het 'n nuwe betekenis gekry nadat Georgiet Helga Barkhuizen 'n grootse poging aangewend het om haar buurman se ondersteuning vir haar deur die afgelope jaar te beloon - met 'n nuwe laag verf vir sy huis en 'n skoongeskoffelde tuin.
Dis binne net een dag gedoen en sonder sy medewete.
Om dit moontlik te maak, het Barkhuizen die George Junior Raad en 'n klomp borge se hulp ingeroep. Gevolglik was haar bure, Chris Olivier en Nina Verwey, se huis op Saterdag 25 Februarie 'n gewerskaf van die eerste water.
Onder Barkhuizen se aanvoering het 30 ywerige junior raadslede en borge die heeldag gespook om die huis te verf en tuin op te ruim.
Weatherprufe Paints het die onderlaag en al die verf vir die projek geskenk.
Barkhuizen het sake so bewimpel dat Olivier Saterdag niksvermoedend op 'n visvanguitstappie gegaan het. Verwey het ná 'n besoek aan die haarsalon en 'n grimeer- en naelsessie die middag gaan fliek, met komplimente van Barkhuizen. Sy het tot gesorg dat hul hond, Bruno, hondesalon toe is.
Dit was 'n oorweldigende oomblik toe hulle laatmiddag tuiskom en 'n skoon, netjiese erf en vars geverfde huis vind met die moeë, maar vrolike junior raadslede en borge om hulle te verwelkom.
Olivier het agterna aan George Herald gesê, "Ons wil almal wat betrokke was uit ons harte bedank. Ons het rêrig nie geweet nie. Helga het vooraf net gesê hulle gaan die dak skoonspuit en die huis se muur wat na haar erf toe wys, verf omdat dit 'n seeroog is. Dis 'n baie, baie groot geskenk."
Verwey het gesê hulle is mense van min woorde en die groot groep mense wat hulle ingewag het, het haar sprakeloos gelaat. "Ek sou soveel meer voor die kamera wou sê. Ek was emosioneel en wou eintlik huil. Dit was 'n ongelooflike verrassing." Die huis is Olivier se pa se huis en hulle woon al ongeveer 10 jaar daar. Sy pa het die huis in 1988 gekoop.
Kennisgewings
Barkhuizen vertel sy het begin planne maak om hulle te help toe die munisipaliteit ongeveer ses maande gelede begin het om kennisgewings aan Olivier te stuur. Bure in die straat het ongelukkig begin raak oor die toestand van die eiendom. Sy het met die munisipaliteit in gesprek getree om vergunning vir tyd. 'n Raadslid het aan haar genoem dat die Junior Raad nog nie 'n gemeenskapsprojek vir die jaar het nie, en toe sy hulle nader, was hulle dadelik inskiklik.
101 jaar oue huis
Barkhuizen het 'n helpende hand uitgesteek te midde van haar eie uitdagings. Sy het haar linkerbeen 10 jaar gelede in 'n motorongeluk verloor en kom oor die weg met 'n prostese. Sy is enkelma van 'n klein baba.
Sy vertel: "Chris was ongelooflik behulpsaam oor die afgelope jaar toe ek heelwat teëspoed gehad het. Ek het 'n 101 jaar oue huis 'n jaar gelede hier langs hulle gekoop met die doel om dit tot sy volle glorie te restoureer."
FOTOGALERY: Bure kry hulp in Dormehlsdrift
VIDEO: Georgiet en Jeugraad reik uit
VIDEO: Die verrassing word bekendgemaak: Chris Olivier en Nina Verwey kom tuis. Video's deur Melanie Stopforth
Sy het in die eerste jaar as nuwe eienaar 10 inbraakpogings, twee inbrake, twee rowe en selfs een grondbesetting beleef.
"Gedurende hierdie tyd, sonder dat ek gevra het, was Chris altyd gewillig om te help, maak nie saak wat nie. Nina het bygestaan wanneer hy in die middel van die nag oorloop na my om my te help om die krane buite toe te draai toe die geiser gebreek het, terwyl my baba op die boonste verdieping lê en slaap.
"Dit terwyl hy self swaar trek nadat hy groot mediese uitgawes gehad het. Dit het daartoe gelei dat hy nie sy tuin en huis kon onderhou soos dit moes nie. Ek vertrou dat hierdie poging vir hom en Nina nuwe moed sal gee."
Barkhuizen is 'n aanbieder vir die SABC 2 se program Activated wat van 9 April af op Sondagoggende uitgesaai gaan word. Dit bestaan uit 26 episodes en handel oor mense wat 'n verskil in die land en hul medemens se lewe maak, ten spyte van die een of ander fisiese gestremdheid waarmee hulle moet saamleef.
Die George-jeugraadslede se bereidwilligheid en energie was aansteeklik.
Die tuin is opgeruim en beddings skoon en netjies agtergelaat.
'n Baie dankbare Chris Olivier en Nina Verwey by hul voorstoep wat Maandag nog 'n laag verf gekry het terwyl hulle by die werk was. Hul hond, Bruno was Saterdag by die hondesalon tydens die verfprojek by die huis. Foto's: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'