GEORGE NUUS - Met baie mense wat onder die stygende koste van elektrisiteit steier word inwoners van George gewaarsku teen 'n nuwe voorafbetaalde elektrisiteit-bedrogspul.
Inwoners word gewaarsku teen dié bedrogspul waarin verbruikers aanlyn elektrisiteitseenhede kan aankoop teen 'n afslagprys.
Die George-munisipaliteit se elektroteg-niese direktoraat het bevestig dat hulle bewus is van die swendelaars en het inwoners gewaarsku om slegs eenhede van goedgekeurde verskaffers te koop.
"Inwoners wat kies om voorafbetaalde elektrisiteit by 'n swendelaar te koop, kan nie die munisipaliteit verantwoordelik hou vir daardie geld wat vermors word nie. George-munisipaliteit kan nie inwoners in hierdie situasies terugbetaal nie. Die munisipaliteit of Ontec, die munisipaliteit se diensverskaffer, kan verskaffers verifieer.
"Indien u as inwoner onseker is oor die geldigheid van 'n ondernemer, maak asseblief seker met die munisipaliteit of Ontec," het die munisipaliteit se mediaskakelbeampte, Debra Sauer, gesê.
Die munisipaliteit kon nie enige spesifieke voorvalle bevestig nie, maar die waarskuwing is ook deur mediahuise in Kaapstad en omgewing uitgestuur.
Ontec kan help met verkoopverifikasie en bevestiging, en indien nodig sal Ontec die spesifieke punt(e) inspekteer. Ontec kan by 044 873 5474 geskakel word.
Geen oortredings sal geduld word nie. Verkopers word ook nie toegelaat om elektriese eenhede teen verhoogde bedrae te verkoop nie. Klein winkels of spazawinkels mag ook nie elektrisiteit aan inwoners verkoop met die voorwaarde dat hulle eers ander goedere moet koop nie.
Vir navrae oor voorafbetaalde meterkwessies, skakel 044 801 9218/9229 of na-ure na 063 699 5998 en hou jou munisipale rekeningnommer en voorafbetaalde meternommer byderhand. Jy kan ook jou navraag e-pos na elec.applications@george.gov.za en of accounts@george.gov.za
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'