Update
GEORGE NUUS - Ons maak die besigheid toe uit vrees vir ons lewens. Só het die eienaar van 'n selfoonwinkel in die middedorp gesê 'n dag na hulle slagoffers van 'n gewapende roof was.
Eden Cellular in Markstraat is Maandagoggend kort na oopmaaktyd deur twee gewapende mans beroof.
Die verdagtes het die winkel binnegekom en na bewering die eienaars, wat verkies om anoniem te bly, en hul babadogtertjie met 'n vuurwapen en 'n mes gedreig.
Hulle het die slagoffers beveel om op die grond te lê en met skootrekenaars, selfone en kontant gevlug.
Ooggetuies op die toneel het aan die George Herald genoem dat twee mans, kort voor die rooftog, voor die winkel rondgestaan het.
Niemand is tydens die voorval beseer nie. Die verdagtes het te voet gevlug en geen arrestasies is gemaak nie.
Winkeleienaars word gevra om te alle tye waaksaam te wees en waar moontlik sekerheidshekke te installeer.
Die polisie het kort na die rooftog die toneel afgesper en mense ondervra. Foto's: Kristy Kolberg
Verdagte pakkie voor PNA
Dieselfde oggend is die polisie in kennis gestel oor 'n verdagte pakkie voor PNA in Shamrock Place, Yorkstraat.
Volgens George-polisie se kommunikasiebeampte, sers. Michael Opperman, het een van die besighede langs PNA die polisie van die pakkie verwittig.
"Die honde-eenheid is ingeroep waarna die bom-eenheid van Mosselbaai ook die pakkie ondersoek het. Die inhoud van die pakkie was skadeloos en die toneel is voor 10:00 beveilig," het hy gesê.
Lees 'n vorige artikel: Gewapende roof in middedorp
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'