GEORGE NUUS - Familie en vriende van konst. Donay Phillips (32) is steeds in skok en rou ná sy ontydige dood op Sondag 8 Mei. Medelye stroom steeds in op plaaslike Facebook-blaaie.
Phillips, oorspronklik van George en 'n oudleerder by Hoërskool George, was een van drie mense wat op Saterdag 7 Mei by die New Somerset-hospitaal in Kaapstad deur 'n pasiënt geskiet is.
Phillips het 'n kopwond opgedoen en het die volgende dag aan sy beserings beswyk. Die ander twee slagoffers, wat ook pasiënte in die hospitaal was, is op die toneel dood.
Ten tyde van die voorval was Phillips ontplooi by die Seepunt-polisiestasie.
Sy voormalige skoolhoof, Deon Stoffels, sê hulle onthou hom as 'n stil mens met goeie maniere. "Hy het goed presteer op akademiese vlak en was 'n stil en respekvolle leerder. Dit was 'n groot skok om van sy heengaan te verneem," sê Stoffels.
Die Wes-Kaapse polisiekommissaris, Thembisile Patekile, het op Vrydag 13 Mei, tydens 'n roudiens by die Life Church in Seepunt in die Kaap, Phillips se familie belowe geregtigheid sal geskied.
"Hy het die harte van elkeen van sy kollegas aangeraak en hy was 'n vegter vir ons demokrasie. Hy was 'n baie geliefde man. Die noodlottige dag toe Phillips vermoor is, het hy met dapperheid opgetree," het Patekile gesê.
Sy ouer broer, Shane Phillips, het tydens die roudiens genoem dat sy broer baie gehad het om voor te leef en dat hy die laaste paar jaar van sy lewe steeds groot hoogtes bereik het.
"Hy was baie trots om 'n polisieman te wees en was absoluut mal oor sy werk. Dit is gepas dat 'n mens sou wou sê dit was sy roeping."
Phillips is geskiet nadat hy 'n 35-jarige verdagte vir mediese behandeling na die New Somerset-hospitaal geneem het. Toe hy 'n woordewisseling in 'n ander deel van die hospitaal hoor het hy gaan ondersoek instel. 'n Bakleiery het glo ontstaan waarna 'n oudpolisieman, Jean Paul Malgas (40), wat betrokke was in die woordewisseling, Phillips se diensvuurwapen gegryp en hom, asook die twee ander pasiënte, geskiet het.
Malgas, 'n voormalige Vredenburg-polisiebeampte wat in 2007 ontslaan is ná hy aan korrupsie skuldig bevind is, is in hegtenis geneem en het Dinsdag 10 Mei sy eerste hofverskyning gemaak. Hy het sy borgtogaansoek laat vaar. Malgas ly glo aan ernstige depressie en het 'n geskiedenis van geweld en aanranding. Die saak is tot
30 Junie vir verdere ondersoek uitgestel.
Patekile het gesê hy [Malgas] sal verhoor word en die hof moet besluit. "Ek is nie seker oor sy depressietoestand nie, al wat ek weet is ons het iemand gearresteer wat een van ons eie vermoor het."
Phillips was die jongste seun in sy gesin en het vroeër vanjaar verloof geraak.
Die Wes-Kaapse-polisiewoordvoerder, brig. Novela Potelwa, sê sy kollegas het hom as 'n toegewyde en goed gedissiplineerde polisiebeampte beskryf wat sy pligte met trots uitgevoer het.
"Sy kollegas onthou hom as 'n baie netjiese polisiekonstabel. Hy was 'n voorbeeld vir almal en baie vriendelik. Almal by die polisiestasie is in rou gedompel. Seepunt-polisiebeamptes het 'n broer in hom verloor. Die pyn wat sy kollegas voel, sal baie lank voortduur," het Potelwa gesê.
Phillips se familie is genader, maar wou in hierdie stadium nie kommentaar lewer nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'