GEORGE NUUS - 'n Man, Jemery Siko (24) is Saterdagaand, 4 Februarie, in hegtenis geneem in verband met die brutale moord van sy vriendin, Yolandy Boesak (30).
Boesak, wat oorspronklik uit Oudtshoorn kom, is Saterdagaand deur lede van Conville-polisie op die bed in Siko se woning in Kroghstraat, Borcherds, aangetref ná hulle omstreeks 23:20 op 'n klagte gereageer het.
Sy het veelvuldige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar. Siko word daarvan verdink dat hy Boesak tydens 'n voorval van gesinsgeweld wreed aangerand het.
Siko was nog op die toneel met die polisie se aankoms. Hy is in hegtenis geneem op aanklag van moord en het Dinsdag 7 Februarie sy eerste verskyning in die George-landdroshof gemaak.
Die saak is uitgestel tot volgende week vir sy borgtogaansoek.
Enigiemand met inligting rondom die voorval word gevra om Stop Misdaad by 08600 10111 te skakel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'