GEORGE NUUS - 'n Vierjarige seuntjie verloor sy pa, 'n vrou haar man, en die George-polisiestasie een van hulle topoffisiere na sers. Wendell Tait (38) op Sondag 13 Desember aan Covid-19-verwante oorsake dood is.
Sy vrou, Phyona Tait, beskryf haar eggenoot as 'n positiewe en geduldige man.
"My man het die grootste hart gehad en het te alle tye ander se behoeftes voor sy eie geplaas. Hy het altyd 'n positiewe uitkyk gehad en mens sou hom selde sonder 'n glimlag sien. Hy het sy lewe gewy aan ander. Ons gaan hom verskriklik baie mis."
Tait is sedert Januarie 2006 in die polisiediens in die George-omgewing na hy sy basiese opleiding aan die Phillipi-opleidingskollege voltooi het.
"Hy het aanvanklik by Pacaltsdorp gewerk, maar kort daarna is hy verplaas na George waar hy in die speurdiens gewerk het," vertel sy vrou.
Hy is op Dinsdag 1 Desember positief met Covid-19 gediagnoseer en nege dae later in die Mediclinic George opgeneem waar hy oorlede is.
Môre, Vrydag 18 Desember, beplan Tait se kollegas om hul eer te betoon deur 11:00 verby sy huis in Volkwynstraat, Le Vallia te ry.
'n Roudiens word Saterdag, 19 Desember, om 10:00 by die George Metodiste Kerk in Heatherlands gehou. Die diens gaan ook op Facebook Live gebeeldsend word.
Hy word oorleef deur sy vrou, seuntjie, sy suster en breër familie.
George-polisie se kommunikasie-beampte, kapt. Nolonwabu Tshengu, sê Tait was 'n veelsydige speurder.
"Hy was 'n lid wat sy pligte met ywer uitgevoer het. Hy het 'n goeie sin vir humor gehad en was geliefd onder sy kollegas."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'