GEORGE NUUS - Die George-speurtak is in die wolke nadat hulle as die beste speurtak in die Wes-Kaap aangewys is. Boonop is die tak onder die toptien speurtakke van sowat 1 500 polisiestasies landswyd.
Erkenning is aan die lede van die tak gegee tydens 'n spesiale geleentheid op Vrydag 12 Mei vir die noodsaaklike werk wat hulle verrig. Hierdie prestasie dek die finansiële jaar 2022/2023 wat in Maart 2023 geëindig het.
Die geleentheid is onder meer bygewoon deur generaal-majoor Norman Modishana, distrikskommissaris van die polisie in die Tuinroete, brig. Nolan Michaels, stasiebevelvoerder van George en belanghebbendes.
Nie eers die reën kon die geesdrif tydens die geleentheid demp nie. Sertifikate uit erkenning vir die rol wat hulle gespeel het, is aan die lede van die speurtak sowel as ondersteuningsdienste betrokke by ernstige sake oorhandig.
Kol. Xola Mntwapi, hoof van die George-speurtak, het gesê dis 'n droom wat waar geword het. Hy het in Maart 2020 in George aangekom en daarvan gedroom dat George se speurtak eendag onder die bestes in die land sal wees.
Mntwapi het sy dank uitgespreek teenoor almal wat dit moontlik gemaak het en erkenning aan hulle gegee.
Brig. Nolan Michaels, stasiebevelvoerder van George.
Michaels het gesê dis 'n geleentheid om fees te vier. Daar is opofferings deur elkeen van die stasies gemaak en hulle het elkeen hul eie uitdagings. So 'n prestasie kom nie goedkoop nie en dit verg opofferings van die betrokkenes. Dis nie altyd 'n maklike pad nie.
Volgens hom is dit on-moontlik om die soetheid ten volle te geniet as mens nie die bitterheid van die stryd ervaar het nie. Die lede van die plaaslike tak het gehelp om die geskiedenis se koers te verander.
Dis die werk van die polisie om mense se lewens te spaar. Deur die optrede van die lede het hulle hoop in verskeie gemeenskappe gebring.
Modishana het die lede bedank en gesê hulle maak die polisie trots. Hy het lede gevra om nie in die verlede te leef nie. Die vraag wat lede hulself moet vra is: Wie is jy? Wanneer 'n mens die top van 'n berg bereik, is daar nog 'n steil berg. Die tak is nou top in die provinsie en onder die toptien in die land.
Die uitdaging waarvoor lede egter nou te staan kom is hoe gaan hulle daardie posisies behou.
Die vraag is of die gemeenskap tevrede is met hul diens. In die departement is daar tevredenheid, maar daar is steeds 'n steil berg om te klim.
Sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê die George-stasie is 'n sogenaamde "brigadier-stasie" en in die kategorie was hy eerste op prestasie in die Wes-Kaap.
Dit is 'n stasie waar die bevelvoerder 'n brigadier is.
Genl.maj. Norman Modishana, distriks-kommissaris van die polisie in die Tuinroete.
Van die aanwesiges by die geleentheid. Foto: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’